Vrede is nie afhanklik van voorspoed of sukses nie. SUSAN COETZER het tydens die Vroue wat glo-retreat vertel geluk is moontlik te midde van uitdagings.
Ondersteun mekaar in tye van uitdagings en swaarkry
Die eerste keer wat ek op my eie na ’n geselligheid moes ry, het my hande en my voete so gebewe dat ek gedink het ek gaan dit nie maak nie. Ek het gedink dalk moet ek hierdie roeping oor my lewe, om veral voor vroue te staan en hulle te probeer bemoedig, laat gaan. Dis te stresvol. Dis te erg vir my.
Met die oë op my gerig, ’n geskeide vroutjie wat voor hulle staan. Gelukkig is die Here groter as baie dinge wat ons mense oor veroordeel. Ek het gaan skuiling vind onder Sy vlerk en al bewend gegaan. Die Here stuur ook mense oor jou pad om jou op te lig. Ons is Sy hande, voete en mond.
Ek is definitief nie geroep om enigiemand te judge nie. Die Here het nooit vir my gesê nie: Daai een, gaan sien haar reg. Daai vrou, gaan lees vir haar die Leviete voor … Ek is hier om ander te probeer opbou, maar dit begin by myself.
Op ’n dag was ek by ’n geselligheid in Pretoria en ’n jong vrou kom ná die tyd na my toe en sy sê: “Die Here sê vir my, ’Susan, jy hoef nie so te sukkel nie, dit kan vir jou baie makliker wees, want die Here is met jou’.”
Dit het soveel vir my beteken. Die Here roep ons om mekaar te ondersteun, mekaar op te hef. Sê vir jouself: Jy’s orraait, die Here is vir jou lief.
Vind jou krag by God in die moeilike tye
My geluksbarometer is deesdae altyd ver bo vyf, ek sou sê ek is ’n 7 of 8. As ons ’n hele klomp jare in oënskou neem, sal ’n mens ’n kurwe sien. Wat het verander?
Miskien is jou geluksbarometer ’n -1.
Dan wil ek vir jou vra: Hoe lyk jou konneksie met die kragbron? Daar is ’n Kragbron, die Almagtige is daar. Ek vergelyk dit soms met ’n haardroër. As ek my hare wil blaas, moet ek ’n haardroër inprop. Ek kan nie net sê nie: Ek het ’n haardroër. Ek ken die Almagtige … Jy moet inprop en dan moet jy dit aanskakel.
Ek het “aangeskakel” en die Reisboek gelees. Dit is die Bybel. Dit is ’n fantastiese boek. Dit is nie net ietsie om te lees in die aand voordat ek kan gaan slaap nie. Dit is ’n wyse boek.
Ek het ook ’n professionele terapeut vir drie jaar gesien om my te help om ’n nuwe hoofstuk van oorwinning te stap. Ek wil hierdie nuwe pad van oorwinning, totdat ek eendag begrawe word, stap.
Daar is praktiese dinge in die Reisboek wat jou lewensondervinding, hoe jy die lewe beskou en hoe jy dit ervaar, kan verander.
Begin beweeg om geestelik sterk te bly
Ons is baie keer soos die voëls, ons wag. Ek het nou begin, nou wag ek vir die Here om dit te doen.
In die Bybel was ’n man wat vir 38 jaar langs die bad gelê het. Baie van ons lê ook só. Of ons sit miskien voor die TV. Of jy is net stuck in jou gees, in jou emosies, in jou werk, in jou verhouding, jou huwelik … Jy is stuck.
Daardie man het gelê en wag. Hy was jammer vir homself en het gedink niemand wil my help nie. Elke jaar lê ek hier en die engel kom net een keer verby en roer die water. Ek kan dan nie by die bad kom nie, want niemand help my nie.
Ek het ook só gevoel. Niemand help my nie. Hier is ek alleen. Ek het al hoeveel mense in my lewe gehelp. Hulle emosioneel opgelig, finansieel … waar is hulle nou? Hoekom help niemand my nie? Ja, ons mag jammer vir onsself voel, want baie van ons gaan deur baie moeilike dinge. Ons moet net nie daar ’n huis bou nie.
Wat het Jesus gesê vir daardie man wat jammer was vir homself? Hy het vir hom gevra: Wil jy gesond word?
Jesus sê toe vir die man: Staan op, vat jou bed of jou kruis, wat dit ook al is wat jou terughou en loop. Beweeg.
Soos die atlete wat oefen, moet ons oefen om geestelik sterk te bly. Ons moet beweeg.