Verkeerde maats, drank, seks, geld… Klink dit soos ’n spanningsfliek? Nee, dís die uitdagings wat jou kind beslis êrens langs die pad gaan teëkom.
Hê ’n gesprek met jou kind oor sosiale uitdagings
Ons moet almal sekere lesse leer soos ons die lewenspaadjie stap. Die lesse se inhoud verander ook soos die tye verander.
Dit was dalk nie in jou tyd so nie, maar onthou, een van jou kind se sterkste behoeftes is om in te pas; daarom is dit vir haar baie makliker om ja as nee te sê, al weet sy dit is verkeerd.
Daar is situasies waaroor jy en jou kind vir seker ’n gesprek sal moet voer. Goeie kommunikasie, geduld en onvoorwaardelike liefde kan alles te bowe kom. Wees geduldig met jouself en met jou kind!
“Hoekom moet ek eers wag met seks?”
Die ou reël geld: Wees eerlik en antwoord net op wat gevra word. Kinders word deur die media gebombardeer met inhoud van ’n seksuele aard, en hulle kry ook verkeerde inligting by hulle maats. Gebruik dit as ’n aanknopingspunt om met jou kind te gesels.
As jou dogter se klasmaat swanger raak, kan jy met haar gesels oor die geleenthede wat die meisie in haar jongmenslewe gaan misloop.
Goeie nuus! Navorsing toon dat die meeste kinders wel hulle ouers se waardes respekteer en uitleef, maar jou kind móét die nodige inligting en vaardighede hê om haarself te beskerm.
Praat met jou kind oor selfbeeld en groepsdruk
“Ek is nie so mooi soos my maats nie.”
Probeer geleenthede skep waar julle byvoorbeeld in ’n ontspanne manier modelle in die media bespreek. Met die hulp van tegnologie word enige skoonheidsfout maklik verwyder. Help jou kind om krities na die foto’s te kyk en wys die foute uit.
Praat gereeld oor gewig, maar koppel dit aan gesonde eetgewoontes en nie aan die skaal of die ideale kleregrootte nie.
Elke mens behoort aan ’n gesin met sekere oorerflike eienskappe. As jou dogter byvoorbeeld weet sy het haar breë heupe by haar ma geërf, kan sy makliker vrede daarmee maak.
“Hoekom het julle so ’n probleem met drank?”
Pasop vir ’n gepreek, al is die versoeking hóé groot. Hou julle gesprekke kort, verkieslik onder vyf minute.
Hou ook in gedagte dat vandag se generasie beter reageer as jy die gevare van alkohol vir hulle gesondheid uitwys. Dit het meer slaankrag as om te sê dat dit onwettig en verkeerd is.
Help jou kind om ’n antwoord gereed te hê as sy maats op ’n drankie aandring. As ’n “nee, dankie” nie werk nie, kan hy altyd sê: “My ma kan alkohol ’n myl ver ruik! Dan is ek weer ’n maand gehok!”
Dis onrealisties om te dink dat jou kind nooit ’n bier te veel gaan drink nie. Tref daarom reëlings om kinders op ’n sekere tyd op te laai. Kinders moet weet dat hulle nie kan bestuur nadat hulle alkohol gedrink het nie.