Daardie dag het God al my vrese weggevat

Daardie dag het God al my vrese weggevat

JOE FOSTER was so vasgevang in sy vrees, dat hy nooit daaroor gepraat het nie. Maar in ’n oomblik van lig, het God die antwoord gegee.

Vrees laat jou hulpeloos en alleen voel 

As iemand jou vra om aan enigiets te dink behalwe aan ’n pienk olifant, is ’n pienk olifant die enigste beeld wat in jou kop gaan vassteek, nie waar nie? En hoe harder jy probeer om aan iets anders te dink, hoe duideliker word daardie prentjie in jou gedagtes.

Vervang nou die pienk olifant ...

JOE FOSTER was so vasgevang in sy vrees, dat hy nooit daaroor gepraat het nie. Maar in ’n oomblik van lig, het God die antwoord gegee.

Vrees laat jou hulpeloos en alleen voel 

As iemand jou vra om aan enigiets te dink behalwe aan ’n pienk olifant, is ’n pienk olifant die enigste beeld wat in jou kop gaan vassteek, nie waar nie? En hoe harder jy probeer om aan iets anders te dink, hoe duideliker word daardie prentjie in jou gedagtes.

Vervang nou die pienk olifant met vrese en denke wat net in nagmerries hoort. Goed wat nie by jou persoonlikheid pas nie, wat indruis teen wie jy is, teen jou eie moraliteit en die gemeenskap se waardes.

Dit kan enigiets wees, van die vrees om ’n ongeneeslike siekte te kry, ’n kindermolesteerder te wees of om ’n dier of familielid seksueel aantreklik te vind. Dit is die hulpeloosste gevoel in die wêreld.

Die vrees dat hierdie gedagtes en soveel ander weer gaan terugkom, is oorweldigend. Later vermy jy elke persoon of ding wat hierdie gedagtes kan prikkel. Gevolglik skuif jy die mense en dinge wat na aan jou is, uit jou lewe. My gedagtes was onuitspreekbaar.

Kenners meen dat ’n mens met hierdie gemoedsversteuring gebore word en dat dit deur ’n traumatiese gebeurtenis tydens jou kinderjare ge-trigger word. Ek dink ek het dit nog altyd gehad, maar toe ek vyftien was, het my wêreld inmekaargeval toe ’n kennis, wat homself as ’n musiekbestuurder voorgedoen het, my baie seergemaak het – een van die ergste goed wat in my lewe gebeur het.

Aaklige gedagtes het by my begin opkom en dit het my verskriklik gepla. Dit was nie wie ek was of wou wees nie.

Om vreesbevange te wees steel jou lewensvreugde 

Ek het swak presteer op skool en my selfbeeld was teen die grond. Later het ek aan rook en dagga verslaaf geraak. Selfs as ’n tiener het ek my eie lewe probeer neem.

Baie sielkundiges en psigiaters het in my kop probeer klim om agter te kom wat fout is, maar nie een het ooit vermoed dat ek obsessief-kompulsief is nie. Hoe kon hulle? Ek was so skaam oor die gedagtes dat ek nooit daaroor gepraat het nie.

Na skool het ek ’n ruk lank in Nederland gaan studeer. Die verandering van omgewing het my goed gedoen. Ek het later selfs my medikasie gelos.

Terug in Suid-Afrika het my toestand weer verswak. ’n Goeie vriendin het selfmoord gepleeg en bowendien moes ek deur ’n erge liefdesteleurstelling gaan. Ek was in die donkerste, diepste gat ooit en alles uit my verlede is saam met my in dié gat gegooi.

In daardie stadium het dit net vir my gevoel asof ek nooit gaan wen nie. “Hoekom moet ek deur al hierdie goed gaan? Wat is die doel? Niks maak meer sin nie!” het ek gedink.

Wéér probeer ek my lewe neem. Hierdie keer sny ek so diep dat my pa, wat ’n chirurg is, my arm met steke moes toewerk. En toe is die antwoord nog al die tyd net daar.

Die oomblik van lig het gekom een aand na ’n lang en harde dag in die ateljee. Ek het by die huis gekom en net daar in my donker kamer op die vloer gaan sit en begin huil en bid.

Ken en verstaan dít wat jou bang maak  

“Hoekom moet die lewe so moeilik wees? Ek is moeg en ek kan nie meer nie. Here, help my,” het ek Hom gevra.

Dit het gevoel of ek my laaste stryd verloor het. Ek was wanhopig. Skielik kry ek die idee om my situasie, my gedagtes, my lewe te Google. Net daar op die rekenaarskerm verskyn die antwoorde waarna ek my lewe lank al soek. Die antwoorde wat ek te bang was om te kry.

Die verhale van ander lyers het my oë laat oopgaan. Vir die eerste keer in jare het ek nie meer so alleen gevoel nie. Daar was baie ander wat dieselfde goed as ek beleef. Dit was regtig asof die lig skielik vir my opgegaan het.

Daardie dag het God al my vrese weggevat en my die pad na genesing gewys. Ek het dadelik my sielkundige gebel en ’n afspraak gemaak. “Ek weet wat is fout met my!” het ek vir hom gesê. En vir die eerste keer het ek oopgemaak oor alles wat ek nog nooit met iemand kon deel nie.

Die sielkundige het saamgestem en obsessief-kompulsiewe gedrag en depressie by my gediagnoseer. Dit is nie geneesbaar nie, maar dit is beheerbaar. Ek het dadelik met terapie begin en moes op die moeilike manier deur al my obsessies en gedagtes werk.

Die reis na genesing het toe eers begin. Ek het steeds baie af dae gehad. Ek moes die sindroom, wat die eerste helfte van my lewe verwoes het, leer ken en verstaan. Hoe meer kennis jy egter het, hoe makliker kom aanvaarding en genesing.

Deel die artikel

Méér artikels

In die film Bond of Blood draai die hoofkarakter, vertolk deur MARNO VAN DER MERWE, sy rug op sy ouerhuis. Só word die verhaal van ...

As jong meisie het sangeres en TV–aanbieder ROUCHELLE LIEDEMANN se swak selfbeeld haar lank gekeer om haar drome uit te leef. Vandag leef sy in ...

Scroll to Top