Jy verskree of mishandel nie jou kinders nie, so, jy is heel tevrede met jouself. Maar wat van daardie kwetsende woorde wat jy so maklik sê?
Wees versigtig met wat jy vir jou kinders sê
Net ’n oomblik voor jy jouself op die skouer klop en sê dat jy gelukkig darem nie so ’n ma nie. Wat jy vir jou kind sê en die manier waarop jy dit sê, kan net so ’n negatiewe invloed op haar hê.
Gekombineer met min liefde, baie konflik en koue en afsydige ouers kan dit tot angstigheid, depressie, konsentrasieprobleme of afknouerigheid lei, sê sielkundiges.
Hier is die vernaamste dinge wat ’n ouer nooit vir haar kind mag sê nie.
“Jy is dom” of “jy kan beter doen.” Dit is een van die heel slegste dinge om vir ’n kind te sê, want dit knou haar vir ewig. Die kind glo dit, tree daarvolgens op en bereik nooit haar volle potensiaal nie. Dis baie moeilik om iemand later in haar lewe te oortuig dat sy eintlik slim is.
Veral kinders met leerprobleme, wat deur medikasie of ander behandeling reggestel kan word, word dikwels groot met die idee dat hulle dom is. As sy iets onnosels aanvang, maak doodseker jy sê dat dit ’n dom ding was om te doen, nie dat sy dom is nie.
Onthou jy toe jy gesê het dat dit goed is om tweede in die klas te staan, maar dat sy met ’n bietjie meer werk eerste kon wees? Of dat die rapport nie sleg lyk nie, maar dat sy moet onthou volgende jaar gaan nog moeiliker wees?
’n Kind wat altyd sulke terugvoer kry, voel as volwassene ontoereikend, magteloos en hulpeloos. Sy dink later niks wat sy doen, is ooit goed genoeg nie.
Jy mag nooit, ooit jou kinders op ’n guilt trip stuur nie, want dit is eintlik niks anders as manipulasie nie. Dis ’n uiters selfsugtige en gevaarlike ding om te doen. Of dit nou gaan oor jou egskeiding, die hond wat doodgery is of die begroting wat nie klop nie – moenie! Dink baie mooi oor wat jy in ’n oomblik van woede kwytraak, want die wonde kan jare vat om te genees.
Bou jou kind se selfbeeld met die regte woorde
Moet nooit eers in ’n grap dreig om weg te loop nie, want veral kleiner kinders se vertroue in hulle ouers word kwaai hierdeur geknou. Jy besef dalk nie hoe belangrik jy in jou kinders se oë is nie. Om verstoot te word is immers van kleins af ons almal se grootste vrees.
’n Kind kan so angstig raak hieroor dat hy van homself vergeet en net op jou fokus. Sy normale daaglikse ontwikkeling, wat plaasvind deur speel en ervaar, word onherroeplik gestrem. Sulke kinders sukkel met skeidingsangs, en word later besitlike volwassenes.
Dis vir seker belangrik dat ons kinders meer bedag moet wees op sekere gevare, maar jy wil ook nie jou kinders oorversigtig en angstig grootmaak nie. Hoewel daar niks verkeerd is met ’n gesonde vrees nie, sukkel kinders wat vir alles bang is, met dinge soos leerprobleme en normale sosiale ontwikkeling.
Sonder dat ons dit eers agterkom, is ons woorde dikwels gelaai met waarskuwings wat onbewustelik ’n kind angstig kan maak. Jou kinders moet ingelig wees en weet wat om te doen in ’n gevaarlike situasie, maar hulle moet darem genoeg moed hê om kindwees ten volle te kan geniet.
Volwassenes met ’n swak selfbeeld word altyd een van twee persoonlikheidstipes: slagoffers of redders. Die hulpelose slagoffers – soos alkoholiste, dwelmverslaafdes, mense met eetversteurings – is uitstekende manipuleerders. Die redders is weer op hulle gelukkigste as hulle ander mense se probleme kan help oplos.
Jy wil nie hê jou kind moet een van hierdie twee wees nie, maar ’n gebalanseerde grootmens word. Dus, voor jy volgende keer sommer net praat, dink mooi oor wat die effek van jou woorde gaan wees.