Skei is nie die moeilikste deel nie. Dis die losknoop van die honderde draadjies wat ons aan mekaar gebind het. Ek moes leer myself weer lief kry.
Voor my lê 902 kilometer. Dis ’n ver ent om te stap. Ek durf hierdie 34 dae aan met ’n swaar sak op my rug – en ’n hoop bagasie in my hart. Stadig sit ek die een voet voor die ander in die hoop om ’n nuwe lewe tegemoet te stap.
Dis maar ’n paar dae gelede sedert ons besluit het om te skei. Ons het lank probeer om die kloof tussen ons kleiner te maak. Die besef dat nie jý of hý of julle verhouding so perfek is soos jy gehoop het nie, is swaar.
Die vliegtuigkaartjie Spanje toe is al ’n jaar vantevore bespreek. In ’n dokter se spreekkamer het ek op ’n reisartikel afgekom. Die Camino de Santiago-pelgrimstog het soos een groot avontuur geklink!
‘n Nuwe begin na die besluit om te skei
Vooraf wou baie mense weet hoekom ek so ver wil stap. “Ek wil weer in myself vasloop,” het ek geantwoord. Maar toe gebeur dit andersom: Ek het eerste in die Here vasgeloop.
Op dag nege tref dit my. Ná 15 kilometer het ek langs die pad onder ’n boom neergesak en sommer teen die rugsak aan die slaap geraak.
Toe ek wakker word, beleef ek iets wat moeilik is om in woorde te beskryf. Hier rég voor my oë is ’n lysie van al die redes hoekom ek in die eerste plek besluit het om te trou. Nêrens staan daar iets oor ware liefde nie. Die lysie is vol goeie kognitiewe redes, nie hartsredes nie!
Aanvanklik het ek gedink die moeilikste deel was die besluit om te skei. Maar dit was gou duidelik die harde werk begin eers daarna. Met die losknoop van die honderde draadjies wat ons oor die jare aan mekaar gebind het.
Ek moes leer om ou patrone te verander, ou gedagtes te laat los, myself weer lief te kry.
Voor ons getroud is, het ek ekonomies heeltemal op my eie voete gestaan. Amper al my bates is in ons huwelik gestort. Nou voel dit asof ek moet toutrek om te kry wat regmatig aan my behoort.
Tobie Cronjé, een van my dierbaarste vriende, het een dag voor my kom staan en sy hande beskermend om myne gevou. Hy het op sy liefdevolle manier gesê: “Hanli, as jy aanhou vashou, is jou hande nie oop om te ontvang nie.”
Ek het my prokureur gebel en gesê dit het nou lank genoeg aangehou. Ons hou nóú op met baklei. “I’m letting go.”
Vir die eerste keer het dit gevoel asof ek ’n bietjie uit die stof opgelig word en die horison raaksien. Daar ís ’n opwindende nuwe begin wat wink.
Toe ’n vriendin opmerk: “Hanli, jy’s terug!” was dit die mooiste kompliment nog.