Ons soektog na liefde kan soms hopeloos voel, maar God laat áltyd álles ten goede meewerk. Lewe en liefde is moontlik op enige ouderdom.
Die hunker na iemand om lief te hê
Uiteindelik was my droomkombuis klaar. Min wetende dat ek op 53 in hierdie einste sterretjiekombuis vir die man van my drome sou kos maak!
Een Sondag nooi ons pastoor persone wat onvrugbaar is om vorentoe te gaan. Hy voeg by dat hy nie net praat van mense wat nie kan kinders hê nie. Ek sê: “Here, ek glo dat U vir my ’n man het.” En toe staan ek op.
My tyd was gevul met oorsese reise, staproetes, ’n interessante loopbaan in die wynbedryf en toe bemarkingsbestuurder. Tog was daar altyd iets wat gekort het: Ek wou so bitter graag kinders van my eie hê.
Maar die Here het besluit dat daar eers met ’n ander krisis afgereken moes word: die groot K.
Sy weë sluit soms naalde, hospitaalgange en bestraling in. Hy laat egter áltyd álles ten goede meewerk, en ná bykans ’n jaar is die kanker weg.
Intussen het André, ’n lid van die gemeente, en sy vrou leierskapkursusse by ons kerk begin aanbied. Sy het ook borskanker oorleef, maar haar kanker het teruggekeer. Hierdie keer het sy ervaar dat die tyd aangebreek het om Huis toe te gaan.
’n Eerste huwelik ná die ouderdom van 50
Ek het gesukkel om haar dood te verwerk. Hoekom het ek oorleef en is sy dood?
Die nuwe jaar het ek en André saam met die pastoor en sy vrou gevier. André het gevra of enigeen van ons spesifieke planne vir daardie jaar het. Later het die pastoor se vrou gesê dat God vir André gesê het die komende jaar is die jaar van verkenning. André het glo bygevoeg: “I might even go on a date!”
Kort daarna lui my foon. En daar vra hy my om saam met hom te gaan uiteet.
Halfpad tussen die ete deur het hy agteroor gesit en verbaas gesê: “I’m quite relaxed. And you?” Ja, wás ek nie!
Skaars ’n maand later het ons albei net gewéét. Later het André vertel hoe hy God gevra het om hom te wys wie die vrou moet wees.
In die winter van daardie jaar het ons getrou. Dit het spierwit gehael in Stellenbosch. Ek het gebid: “Dankie, Here, nou gee U sommer vir ons konfetti uit die hemel!”
Daar was grys bloekomtakkies met rose van antieke pienk en ivoorwit saam met fynbos in groot silwer kruike gedruk vir ons troudag. God het ons paaie gebruik om ons te bring waar Hy alles is. Saam stap ons Sy vreugdebediening binne.
Daar lê ’n legkaartstuk in my hand. Die vreemde vorm en strepekleur beteken niks nie, maar ek weet dat die stukkie inpas in ’n ewigheid van hoop. Hy wys vir my watter prent ons volgende legkaartstukke gaan vorm.