Ek het vermoedens gehad. Enige vrou sou. Maar dit is maklik om te maak of jy nie weet nie. Jy verkies om al die tekens van ’n affair mis te kyk.
Die verlies van jou man en vriendin deur ontrouheid
Catherina was my beste vriendin. Ons het geheime gedeel en was saam laf. Sy was medisyne vir my hart, maar hierdie keer ook gif.
Sy en my man het ’n kantoor gedeel. Natuurlik sou daar stories wees, het ek myself getroos. En ons kon mos daaroor praat.
“Nooit,” het sy elke keer belowe. Nooit, ooit nie. Ek kon hulle saam vertrou, het sy gesê.
Tot my bittere, bittere spyt.
Sy was my klankbord en het altyd geluister. Dalk het ek te veel op haar staatgemaak. Eerder met haar gaan praat as om te bid.
Dit was verby tussen ons het hy op ’n dag gesê en uit die huis getrek. Ek wou haar vermoor.
My emosies was ’n gemors. Min het ek toe geweet dat pyn die Here se manier is om jou teen Sy bors vas te trek.
Al het ek op ’n manier vir Catherina gehaat omdat sy my man gesteel het, het ek ook na my beste vriendin verlang. Ons het ’n soort vriendskap gehad wat op rots gebou was.
Eers het ons mekaar net gebel om te hoor hoe dit gaan. Aanvanklik versigtig, maar later met die ou bekende omgee.
En toe het ons weer begin om die lewe se lief en leed met mekaar te deel.
Die krag om aan te beweeg na egbreuk
Sy en my eks-man het soms baklei totdat sy in trane was. Dan sou ek haar troos, soos ’n mens met jou beste vriendin maak.
Sy het eerste gebel met die nuus. “Hy is dood!” het sy gesnik. Die nuus het my soos ’n weerligstraal geskok.
Hy het vir my en Catherina die krag en wysheid gegee om mekaar te ondersteun. Om die verlede te vergeet en aan ons vriendskap vas te hou.
Natuurlik was daar tye dat ek gewonder het hoekom op aarde ek so gaaf is met haar.
As dit nie vir haar was nie, was ons twee nog saam. Maar dan het ek my weer herinner aan die Meesterplan.
Daardie dag was ons weduwees van dieselfde man vir wie ons albei so lief was. Ons het oor sy gesig gestreel terwyl die trane oor ons eie wange brand.
Ek het ’n eks-man, sy ’n geliefde en die kinders ’n ouerfiguur verloor. Niemand was wenners nie.
My en Catherina se vriendskapsband sal vir ewig in my hart voortleef.
Maar ook hierdie paaie moes vir eers skei, om finaal weg te breek van die verlede wat ons gebind het.
Ek mis haar …