Die violis LYNETTE DE JAGER het lankal reeds besef dat die lewe kort is en dat sy die beste moet maak van elke geleentheid wat na haar kant toe kom …
Vind jou passie en doen wat jy geniet
Ek het op ’n plaas in die Vrystaat grootgeword. Van kleins af was ek lief vir die natuur en buitelewe en was maar drie toe ek begin perd ry het.
Ons het egter toe ek ouer word George toe getrek, waar ek my skoolloopbaan voltooi het.
Deesdae woon ek in die Kaap. Albei my oupas het viool gespeel, so dis in my gene.
My passie het vlam gevat toe ek besef dat musiek iets is wat ek vreeslik geniet. Dit is ’n uitlaatklep vir my emosies.
Dis die groot lewensbesluite wat regtig ’n verskil maak. ’n Mens moenie halsoorkop ’n rigting inslaan nie, maar eerder jou opsies mooi oorweeg en deurkyk.
Een van die grootste en belangrikste oomblikke in my lewe was die dag toe ek met die liefde van my lewe getrou het. Dit het my lewe vir altyd verander.
Natuurlik was daar ook ander definiërende mylpale, soos die dag waarop ek my graad gekry het en die groot vertonings wat ek al plaaslik en oorsee gedoen het, soos Afrikaans is Groot in Mauritius.
Herinneringe saam met my familie is vir my kosbaar. Ek en my man geniet dit om op uitstappies te gaan, avontuurlustig te wees en nuwe aktiwiteite aan te pak.
My geloof staan sentraal tot alles. Ek spandeer daagliks tyd saam met die Here en gesels met Hom.
Ek het gevind dat dit nie net ’n goeie manier is om my lewe gesond te hou nie, maar ook om my geloof te versterk.
As kind van die Here glo ek wat in die Woord staan en dat die planne wat Hy vir my het, die beste is.
Vind waaroor jy passievol is in die lewe
As jy doen waarvan jy hou, werk jy nie. My beroep as professionele musikant maak my baie gelukkig.
Ek tree op as kontemporêre violis en geniet dit net soveel om te komponeer as om op die verhoog te wees. Musiek is vir my dinamies en ek speel ook graag klavier en sing gereeld.
Oor die jare het ek die voorreg gehad om temamusiek vir ’n klomp rolprente te doen en is ook verantwoordelik vir die musiek wat op Voelgoed LIVE gebruik word.
Hoe ek my tyd spandeer, is vir my belangrik. Ek hou daarvan om produktief te wees wanneer ek werk en te voel dat ek iets bereik het. Om die vrug van jou hand te ervaar, is baie bevredigend. Ek streef daarna om my passie uit te leef en die beste te maak van my talent.
Dit geld ook vir wanneer ek nie werk nie. Doen wat jy geniet. Maak seker dat jy ’n dankbare hart het, sodat jy jou seëninge kan raaksien.
Uiteindelik is nét ek verantwoordelik vir my eie geluk. Dis ’n feit dat net jy kan bepaal wat jy uit die lewe wil hê en wil bereik. ’n Mens moet bereid wees om daarvoor te werk.
Sukses val nie in ’n mens se skoot nie. Dis belangrik om nie na omstandighede te kyk en dit toe te laat om jou gemoedstoestand en geluk te bepaal nie.
Niks is blywend nie. Besef watter seisoen jy jou in bevind en maak die beste van elke oomblik.