Gaan ligter deur die lewe

0
1273

Om ligter deur die lewe te gaan moet jy met ’n nuwe oog te kyk. Jou uitkyk beïnvloed immers jou woorde, dade en uiteindelik jou lewenslot.

Ons het elkeen sekere gedagtes wat oor en oor in ons koppe maal. Hierdie selfgesprekke wat jy voer, bepaal hoe jy na die wêreld kyk: Sien jy ’n halfvol koppie of ’n halfleë een?

Ek het op ’n stadium ’n huurder gehad wat ’n uiterste pessimis was. Hy het my emosioneel “moeg” gemaak. Sy status op sy selfoon het gesê: “So siek soos ’n hond.” Dit was die boodskap oor homself wat hy na die wêreld uitstuur.

Moenie mense vertrou nie, wees net lief vir hulle

Ek het vroeg in my lewe geleer om nie my vertroue in mense te stel nie. As jy jou vertroue in mense sit, beheer hulle jou emosionele gesondheid. Om egter te kies om mense lief te hê gee jou die beheer. Dawid stel dit baie duidelik in die Bybel dat ons nie op prinse moet vertrou nie, maar ons vertroue moet in God alleen wees.

Dié spesifieke huurder het van die begin af ’n probleem gehad met elke klein dingetjie. Die verf is nie netjies nie, ’n kraan drup, die muurprop werk nie, die lig wil nie aanskakel nie… Dit was onmoontlik om hom tevrede te stel, hy het altyd ’n probleem gehad! Sy lewensuitkyk is donker; hy sien alles wat fout is en dit steel sy lewensvreugde. Dit laat my dink aan die ou gesegde: Twee mans kyk deur die tronk se tralies; die een sien modder, die ander een sterre.

As jy hoop dat die lewe eers perfek moet wees voordat jy gelukkig kan wees – skrik wakker. Daar bestaan nie iets soos perfek in hierdie wêreld nie. Ons is mense in ’n stukkende wêreld. As jy jouself losmaak van die stukkendheid en eerder op vrede en liefde fokus, kry dinge nuwe perspektief. In plaas van dat jy voel asof jy beheer verloor omdat alles en almal onregverdig en wreed is, kom daar ’n vrede oor jou wat die verstand te bowe gaan.

Jy kies om gelukkig te wees

Die lewe gaan immers nie oor ons gemak nie, maar oor ons oorwinnings oor al die uitdagings wat ons elke dag in die gesig staar. Slegte dinge gebeur met almal. Wat met jou gebeur, maak nie saak nie, maar hoe jy dit hanteer, bepaal jou lewe!

Is jy die pessimis wat altyd die probleem in elke geleentheid sien, of is jy die optimis wat die geleentheid in elke probleem kan sien? Om ’n pessimis te wees is nie moeilik nie – wees net realisties! Om ’n optimis te wees is ’n uitdaging, want daarvoor het jy GELOOF nodig. Jy gaan altyd voor uitdagings te staan kom. Gaan dit jou stop of gaan jy ’n plan maak en eerder ’n oplossing soek? Geluk is nie iets wat met jou gebeur nie. Geluk is ’n keuse.

Maak ’n lysie van al jou seëninge

Een van die maklikste maniere om jou fokus te verskuif van negatiwiteit is om ’n lys te maak van die dinge waarvoor jy dankbaar is: jou bed, die oggendson, ’n glimlag van ’n vreemdeling, jou geliefdes, gesondheid, geleenthede, jou vermoë om nou hierdie woorde te kan lees… Jy word uiteindelik wat jy dink.

’n Mens verander nie oornag ’n slegte gewoonte soos om oor alles bekommerd te wees nie. Wees geduldig – lag vir jouself, want ons almal val so maklik vas in ou en slegte gewoontes. Oefen om die mooi dinge raak te sien. Enigiemand kan die slegte en wrede dinge raaksien, maar dit vra geloof om met hoop na die toekoms te kyk.

Elke aksie beïnvloed jou liggaam op ’n manier. ’n Frons stel giftige stowwe in jou liggaam vry. ’n Glimlag aan die ander kant stel stowwe vry wat jou vul met krag en energie. Jy word soos die mense in wie se geselskap jy is. Vermy daarom negatiewe mense tot elke prys. Omring jou met mense wat saam met jou kan droom.

Kies om ligter deur die lewe te gaan. Word ’n maklike mens om mee saam te leef, en sien hoe die donker kleed van bekommernis en vrees soos mis voor die son verdwyn.