Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voospoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!
(Jeremia 29:11)
Dis skielik pikdonker en jou hart is gebreek. Jy is moedeloos en nie meer lus vir uitdagings nie. Jy voel soos ’n lemoen wat nog aan ’n boom moet groei, maar lankal al sy sap verloor het. Dit gebeur met die topkomediante, die mooiste vroue, die rykste entrepreneurs … soms raak alles donker.
As al ons wense onmiddellik waar geword het, sou ons heeltemal perspektief verloor het van ons kosbare lewe. Wanneer teleurstelling plaasvind, iemand jou bedrieg, jy iets kosbaars verloor, wat doen jy om weer op te staan?
Wat ek in donker tye koester, is om baie stadiger te lewe en te fokus op wat WEL werk. Soms gaan dit met jou sleg omdat jy juis kleiner dinge oorsien. In jou moedelose oomblik waardeer jy skielik weer die rose in jou tuin, ’n oproep van ’n vriendin of familielid, of net die smaak van goeie koffie.
Wanneer jy deur ’n donker tyd gaan, is dit juis belangrik om van oomblik tot oomblik te beweeg en nie van dag tot dag nie. In die donker moet ’n mens altyd stadig beweeg sodat jy beter kan sien. En gewoonlik is dit ook die grootste verrassing wat die donker tye vir ons inhou – om dan te sien wat eintlik vir jou lig bring en kosbaar is.
Die verrassings is gewoonlik goed wat ons as vanselfsprekend begin aanvaar het. Dis ’n voëltjie op jou stoep of ’n drukkie van ’n suster wat ironies genoeg andersins net nie so kosbaar sou wees nie.
In my grootste teleurstellings het ek nog altyd my grootste seëninge ervaar. As die ligte weer dof raak in jou lewe, raak rustiger en sien uit na die son wat altyd weer opkom.