Die charismatiese HANNES VAN WYK, aanbieder van Kwêla en Hannes aan Huis, het ’n hart vir stories en mense. Hy gesels oor uitdagings, geloof en verlies.
Watter karakter het jou die meeste van jouself geleer en hoekom?
Ek was gelukkig om wonderlike karakters te vertolk. Dit is ’n voorreg. Ek geniet karakters wat mense uitdaag. Sulke rolle is dikwels die interessantste.
Krynauw du Buisson staan vir my uit. Ek het hom tien jaar lank in Egoli gespeel. Hy bly by my omdat ek hom so lank gespeel het. Mense het sterk gereageer. Sommige het koffie oor my gegooi! Ander wou my nie in winkels help nie. Sulke reaksies wys goeie toneelspel.
In Spoorloos het ek ’n kindermoordenaar gespeel. Dit was ’n rol wat mense ontstel het. Ek hou van rolle wat ver van my eie persoonlikheid is.
Ek leer by elke karakter. Ek doen deeglike navorsing. Ek trek die karakter se vel aan. Tydens aanbiedings is ek myself. Met toneelspel betree ek ’n ander wêreld. Drama-opleiding het my beslis gehelp.
Ek neem nie karakters huis toe nie. Ek skakel dit af ná werk. Die rol eindig tot volgende keer. Ek het ongelooflike rolle gehad. Ek hoop op nog meer.
In Magda Louw speel jy Erhard, en die storie fokus op die uitdagings wat met oud word kom. Hoe voel jy self oor die idee van ouer word?
Daar is baie stories en emosie by hierdie karakter. ’n Tannie het onlangs vir my op die George-lughawe gesê: “Ek hou van Kwêla en Hannes aan huis. Dit is mooi. Ons het Magda Louw gekyk. Aan die einde van die tweede reeks het my dogter besef dis jy wat die ou oom speel.”
Dit is lekker as mense jou nie in ’n rol herken nie. Dit is nog lekkerder as jy jou nie oor jou voorkoms hoef te bekommer nie.
Die ou oom is oorgewig. Hy word baie gegrimeer. Ons sit twee uur in die stoel elke keer. Dit is ’n fantastiese rol. Ons begin binnekort met die derde seisoen. Die teks is besonders.
Ouderdom is vir my ’n belangrike onderwerp. My ma is twee jaar gelede oorlede. Dit het my laat besef hoe kosbaar elke dag is. Ek het nie ’n probleem om ouer te word nie. Ek glo ’n mens moet voluit lewe!
Wat my pla, is mense wat hulle ouers by aftree-oorde aflaai. Hulle kuier dan bitter min. As iemand vandag hier lees: Waardeer jou ouers terwyl hulle nog daar is.
Ons almal word ouer. Dit is ’n pad wat ons saam stap. Dit is moeilik om te sien hoe mense te vroeg sterf. Ek dink aan Paul Lückhoff en Christo Compion van Egoli. Hulle was groot name. Om oud te word is ’n moeilike proses vir almal.
Jy sit elke week op die Kwêla-bank en met Hannes aan Huis deel jy interessante stories. Is daar een persoon wie se storie jou besonder diep geraak het en hoekom?
Mense vra dikwels oor my gunsteling onderhoude. Ek is bevoorreg om met talle mense te kon gesels. Wat my veral plesier verskaf, is dat mense my vertrou. Hulle besef Kwêla en Hannes aan Huis is nie ’n uitvangprogram nie.
Ons doen deeglike navorsing vooraf. Ons ken die persoon met wie ons gesels. Ons probeer nooit iemand ontbloot of in die verleentheid stel nie. Dit gaan oor stories, nie sensasie nie.
Ek plaas myself in die ander persoon se skoene. Ek vra wat ek self sou wou antwoord.
Baie onderhoude bly my by. Jannie du Plessis, ná sy seuntjie se verdrinking – ek het saam met hom gehuil. Wilna Snyman, voor haar Alzheimers vererger het. Louis van Niekerk en Frans Marx, kort voor hulle dood. Ek het baie by hierdie mense in die bedryf geleer.
Mense vra hoe ek dit doen. My antwoord is eenvoudig: Doen navorsing, wees voorbereid, en skep ‘n gemaklike ruimte vir die ander persoon se storie.
Jou ma is in 2023 oorlede, en die verlies van ’n ouer laat ’n leemte wat niemand anders kan vul nie. Wat is dit van jou ma wat jy vandag die heel meeste mis?
Dis ’n moeilike vraag. Ek mis my ma verskriklik. Elke dag. Sy is nou net oor die twee jaar oorlede, op die 1ste Januarie. Daar gaan nie ’n dag, selfs nie ’n halfuur verby dat ek nie aan haar dink nie.
Ek glo nie daar was ’n kind en ’n ma wat so na aan mekaar was soos ek en my ma nie. Ons het regtig alles gedeel. As ek iets lekker gekry het, het ek haar dadelik gebel. Ons het partykeer drie keer op ’n dag met mekaar gepraat.
Ek onthou my eenman-vertoning tydens Covid, Sê groete vir ma. Ons het omtrent 200 vertonings gedoen.
Ek het elke aand met haar gepraat. Sy sou altyd vra: “Speel jy vanaand?” As ek ja sê, antwoord sy: “Oukei my kind, ek dink aan jou en bid vir jou.” Een aand het ons afgehad. Sy vra toe weer of ek speel. Toe ek nee antwoord, sê sy: “Dankie tog, ek hoef nie heeldag te bid nie.”
Ma was ’n vrou met ‘n ongelooflike sin vir humor. Ons kon oor alles lag en het altyd ’n grap gesoek. Toe ek by Egoli aangestel is, was ma die eerste een wat ek gebel het. Toe ek moes oorvat by Kwêla, was sy ook die eerste een. “Moet ek dit doen? Wat dink ma daarvan?”
Wat vir my vreemd is, is dat ek nog nie van haar gedroom het nie. Dit pla my nogal. Ek en Coenraad Raul doen nou ’n produksie oor verskillende hartsliefdes, met briewe wat ek geskryf het, onder meer een aan my ma.
Dis nog steeds moeilik. As ek vandag ’n besluit moet neem, wonder ek: “Wat sou Ma gesê het?” Al sê mense dit word beter – dit het nog nie vir my gebeur nie.
Van al die vroue waaroor jy in jou boek, Vroue na aan my hart, skryf, watter een het die grootste impak gehad op jou geloof en verhouding met God?
Die boek was ’n huldeblyk aan vroue saam met wie ek gewerk het en persoonlik ken. Ek het soveel respek vir vroue en alles wat hulle doen. Enkelma’s, eintlik enige ma – ek weet nie hoe my ma dit gedoen het nie.
My eie ma het voltyds gewerk, kinders grootgemaak en kos gemaak. Sy was altyd daar. Ek weet regtig nie hoe ma’s dit doen nie.
Ek het besluit om onderhoude met hierdie vroue te doen. In die proses het ek met baie van hulle vriende geword, soos tannie Emsie Schoeman, een van die vroue in die boek. Elke vrou het ’n indruk op my gemaak en my laat groei.
Ek onthou my eerste gesprek met tannie Emsie. Ek het haar nog nie goed geken nie. Ek het daardie oggend ’n mooi trui gekoop, want sy is immers Mevrou Etiket. Sy het gekyk en gesê: “My kind, jy’t darem nou ’n oulike ou jerseytjie aan.”
Soos Wilna Snyman, wat ook in die boek is – ’n mens leer by elkeen van hulle iets. By elkeen is ’n saadjie in my geplant – oor wat hulle sê of hoe hulle leef. Ek het baie van hulle al lankal geken, en elkeen het ‘n impak op my gehad.
Suzette Cilliers het haar seun in ’n fratsongeluk verloor, maar sy het steeds in haar geloof bly staan, ondanks hierdie tragedie.
Die boek is opgedra aan my ma. Ek weet mense raak moeg vir stories oor haar, maar ek kan nie anders nie – sy was alles vir my. By haar het ek baie geleer, en ma het my leer bid.
As jy vandag terugkyk op jou reis, wanneer is jou geloof die heel meeste uitgedaag?
Geloof is vir my persoonlik. Ek praat nie baie daaroor nie – dis tussen my en die Here.
My ma het my geleer bid. Ek is een van daardie mense wat oral bid. Dit klink dalk simpel, maar ek glo nog soos ’n kind. Ek praat elke dag met die Here.
As iets gebeur, vra ek Sy leiding. Ek het my stiltetye, maar is deur die dag bewus van Sy teenwoordigheid. In ons bedryf word ’n mens gereeld getoets.
Toe my ma sterwend was, was ek elke dag by haar bed. Ek het vir die Here gesê: “Jy en ek, ons moet nou praat.” Ek het gesien sy ly te veel, maar het ook in opstand gekom. Ek praat met Hom daaroor.
Ek het ’n probleem met mense wat oordrewe menings oor geloof het en ander seermaak in die proses.
Wat is daardie eenvoudige, alledaagse dinge wat vir jou die meeste betekenis het?
Ek het ’n klein, maar hegte groep vriende. In die bedryf ken ’n mens baie mense, maar nie almal is vriende nie. Ek het ’n paar spesiale vriende en maak tyd vir hulle.
Ek is besig, waarvoor ek dankbaar is. Wanneer ek af het, is ek by my honde. Hulle is soos kinders. Mariet (vernoem na my ma), Lully en Maggie. Al drie is gered, en my lewe draai om hulle.
Ek hou van middagslapies, al kry ek nie gereeld kans daarvoor nie. Naweke is dit heerlik. Ek geniet ’n goeie boek, maar omdat ek so baie lees vir Kwêla en Hannes aan Huis, lees ek nou minder vir ontspanning.
Ek het ’n lekker huis in die suidelike voorstede van Kaapstad. Dis heerlik om net daar te wees. Ek is lief vir die see en gaan gereeld met my strand buggy strand toe.
Ek geniet ook tuinwerk. Daar is iets aan grond onder jou naels wat vir my werk.
Jou lewensleuse is: “Wees dankbaar vir wat jy het en werk hard.” Hoe help dit jou om gefokus en vervuld te bly?
Wees dankbaar en werk hard. Ek is iemand wat baie hard werk. Ek is ’n bietjie van ‘n perfeksionis – soms wens ek, ek kon ’n bietjie laat gaan – maar ek gee alles.
Ek het drama studeer, en kyk nou – jare later werk ek elke dag in die bedryf wat ek liefhet. Ek speel, ek bied aan, ek skryf. Ek is verskriklik dankbaar daarvoor.
Ons moet onthou – mense in die publieke oog gee soms menings oor dinge wat hulle nie van weet nie. Dit irriteer my.
Net omdat jy bekend is, beteken nie jy is ’n kenner nie. Wees dankbaar, doen jou werk so goed as wat jy kan. Gaan huis toe en geniet jou lewe. As jy nie gelukkig is met wat jy doen nie, probeer iets anders.
Onthou: Môre is daar iemand meer bekend as jy. Ek het onlangs op ’n TV-program hierdie storie vertel. Ons het op Strand geskiet – ’n nag-opname. Teen sesuur die oggend is jy moeg en vuil.
Ek was by die ABSA om geld te trek toe ’n tannie na my toe aangehardloop kom. Ek was al halfpad om my pen uit te haal vir ’n handtekening, toe vra sy vir my vir rigtingaanwysers. Sy het geen idee gehad wie ek is nie.
Wees dankbaar, werk hard en moet jou nie te grênd hou nie.