RENATA VAN DER MERWE het tydens die vroueoggend “Regte Vroue. Regte Geloof.” vroue geleer hoe om weer hulle voete te vind wanneer hulle geloof geskud word.
Geloofstoetse versterk jou verhouding met die Here
Elke kind van God se geloof word getoets. Abraham, die vader van geloof, is vir ons ’n goeie voorbeeld. Hy was nog nie te oud nie, toe die Here hom vra om uit sy land te trek. Om sy familie agter te laat en te trek na ’n land wat die Here later vir hom sou wys.
Ek weet nie of ék dit sou doen nie, maar Abraham was gehoorsaam aan die Here en hy het gegaan. In daardie tyd het sy geloof gegroei.
Ná ’n ruk sê die Here vir hom: Abraham, Ek gaan vir jou ’n seun gee. Jy gaan die vader van baie nasies wees.
Een jaar, twee jaar, vyf jaar, tien jaar … Wie van ons is bereid om so lank te wag op ’n belofte? Vyf en twintig jaar later word God se belofte aan Abraham waar en word Isak gebore. Abraham se geloof word nog ’n bietjie sterker.
Toe kom die grootste geloofstoets. God vra vir hom: Abraham, Ek vra vir jou om nou daardie seun van jou, vir wie jy so lank gewag het, te offer.
’n Geloofstoets waarop Abraham in gehoorsaamheid gereageer het. Hy het die volgende dag sy goed gepak en hy en Isak is weg. Hoe het hy dit reggekry?
Abraham se geloof is oor die jare getoets en getoets en getoets, sodat die Here in hom ’n geloof kan bewerk wat bewonderingswaardig is.’n Geloof wat optree in God se opdrag sonder dat hy verstaan. Want, hy glo God is in beheer van sy lewe. God sal sorg. ’n Geloof wat vir ons vandag nog ’n voorbeeld is.
Ek en Gerjo Ben het ons korporatiewe werk, met vaste salarisse, bedank en ’n internet-bediening begin. Dit was ’n goeie geloofstoets wat ons met die hulp van die Here geslaag het.
Ongelukkig was dit nie die enigste, of laaste, geloofstoets nie. Die volgende geloofstoets was toe Gerjo Ben vir my sê hy het ’n baie blink idee gekry – hy wil die boeke wat ons skryf, saai. Saai beteken jy gee die boeke verniet weg.
’n Geloofstoets leer jou om God onvoorwaardelik te vertrou
Ons boeke se inkomste was ’n redelike noodsaaklikheid vir ons brood en botter. Ek was onmiddellik kwaad, bekommerd en bang.
Gerjo Ben stuur ’n e-pos uit na al die mense wat die internet-stukkies kan ontvang wat sê: Indien jy dink jy kan baat vind by hierdie geestelike dagstukboek, kan jy dit koop. As jy dit nie kan bekostig nie en dink jy het dit nodig, kan jy dit gratis kry. Stuur net vir ons jou adres. Indien jy vriende het wat ook hierdie boeke gaan geniet, kan jy hulle naam en adres ook stuur.
In daardie stadium het ek nie die geloofstoets erken as ’n geloofstoets nie. Dit was vir my ’n krisis.
Die e-posse het ingekom en ek kon later nie meer voorbly om die boeke te pak, die waybills uit te druk en die koeriers te laat kom nie. Ek het ’n vriendin gevra om my te help. Toe sy by die huis instap, was ek in trane. Ek sê vir haar: Weet jy wat het Gerjo Ben gedoen? Kyk hier, mense is besig om sy goedheid te misbruik.
Ek was baie kwaad en ontsteld. Deur die trane het ek die boeke gepak en die koeriers het elke dag gekom. Maar God is getrou. God doen wat Hy sê Hy doen.
Drie maande later roep Gerjo Ben my na sy kantoor toe. Hy wys my e-posse van mense wat op sy e-pos, van die boeke wat gesaai word, gereageer het. Die e-posse sê: Gerjo Ben, ons het gesien julle wil boeke saai. Iemand moet seker daarvoor betaal. Die Here het dit op my hart gelê om iets in te betaal.
Nadat hy my ’n hele paar sulke e-posse gewys het, wys hy my die bankstate. Daar het ek agtergekom ek het die toets gefaal om die Here onvoorwaardelik te vertrou.
Die bankstate het gewys dat dit wat in ons rekening inbetaal is deur mense wat nie eens boeke gekoop of gevra het nie, meer was as al die uitgawes wat ons gehad het om daardie boeke uit te stuur. Daarna was my geloof sterker.