BENESCKE JANSE VAN RENSVBURG het tydens die vroueoggend Regte Vroue. Regte Geloof. vroue gemotiveer om teëspoed vierkantig in die oë te kyk.
Maak blydskap in die Here jou beskutting teen uitdagings
Hoe kan ek God se stem in die storm hoor? Dit is seker die grootste uitdaging as jy vandag in ’n situasie is waar dit regtig moeilik gaan. ’n Situasie waarin jy geweldige teëspoed ervaar en nie seker is van die pad vorentoe nie.
Dit is geweldig moeilik om jou eie gedagtes stil te maak. As jy byvoorbeeld in ’n situasie is waar daar nie genoeg geld in die bank is nie, wat is die eerste ding waaraan jy dink as jy wakker word? Geld.
As jy moet ontbyt eet herinner jy jouself daaraan om nie te veel pap in te gooi nie. Middagete oortuig jy jouself dat jy oukei sal wees met ’n appel. Wanneer jy gaan slaap, dink jy ook aan geld, nè? Dit neem jou hele gedagtewêreld oor.
Daar is ’n Skrifgedeelte wat ek graag met jou wil deel wat vir my waardevol is. Dit sê die volgende: Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die Here, dit is julle beskutting (Nehemia 8:11).
Ons lewe het somtyds reën. Somtyds is dit baie koud en baie stormagtig. Maar wat is dit om blydskap in die Here te hê? Die vreugde wat ons in die Here vind, word vir ons ’n beskutting.
’n Beskutting beteken dat selfs te midde van die storm, is God daar om ons veilig te hou. Hy is daar om ons regtig te beskut. Om vir ons ’n veilige plek te gee waar ons kan rus en nuwe moed vind. Hy kom gee vir ons perspektief wanneer dit voel asof ons nie perspektief het nie.
Verwerping leer jou om na God se hartklop te luister
Ek wil vir jou ’n storie vertel wat vir my so mooi is. Ek het op ’n plaas in die Vrystaat grootgeword. My ouers bly op ’n plaas met skape. In lamtyd wanneer ’n ooi lam, gebeur dit soms dat die ooi dadelik die lam weggooi. Het julle dit al gesien? Ek kan nie glo dit gebeur in die diereryk nie.
Hierdie lammetjies word dan hanslammers. Die hanslammers is aanvanklik baie hartseer as gevolg van hierdie verwerping. As hierdie hanslammers nie vinnig uit die veld gehaal word nie – as jy die lammetjie daar los – gaan die lammetjie dood van hartseer.
Die lammetjie word dan huis toe gebring. Die lammetjie kry hier heerlike melk. Die lammetjie word opgetel en hoor die skaapwagter se hartklop. Wanneer die lammetjie dan later groter word en teruggesit word in die kudde, en die skaapwagter kom nader en roep die skapie, wat gebeur? Die groot skape wat hanslammers was, kom eerste nader. Hoekom? Hulle het die skaapwagter se hartklop leer ken.
God is daardie skaapwagter wat jou in die moeilikste tyd van jou lewe die naaste aan Sy hartklop bring. Die moeilik tye leer ons om Sy hartklop te kan hoor. Om Sy stem te kan leer ken.
Partykeer gebeur dit in ons lewe dat ons ook miskien geweldige verwerping beleef. Gebruik hierdie tye om nader te beweeg aan God. God roep jou om saam met Hom te stap. Dan sal jy vandag se teëspoed vierkantig in die oë kan kyk en weet dat die Vader ’n oorvloedige, glorieryke môre vir jou beplan.