Hoe om… vergenoeg te wees

1419

Ek sien onlangs ’n kleurryke yskasmagneet in ’n winkel. Volgens die magneet moet ’n mens, as jy gelukkig wil wees, nie ooremosioneel wees nie, maar glo en vertrou. Jy moet nooit moed opgee nie, maar aanhou probeer.

Moenie dinge onnodig kompliseer en te ernstig opneem nie; hou dit maklik en lag vir probleme. Behou jou kinderlike onskuld en vreugde!

Sien elke dag as ’n hemelse geskenk

Ons het ’n leuse in die huis wat lui: “If it’s worth laughing about later… it’s worth laughing about it now!”

Het jy al ooit ondervind dat jy ná maande van ’n moeilike tyd in jou lewe kan terugkyk en glimlag, selfs lag oor wat gebeur het?

Dit is omdat die moeilikste tye in jou lewe jou karakter die meeste vorm en bou. Elke ondervinding van die verlede het jou die mens gemaak wat jy vandag is.

Jy loop miskien met baie pyn in jou binneste rond, maar jy kan nie slegs deur jou emosies, gedagtes en gevoelens gelei word nie. Jy moet doen wat God van jou verwag, al maak dit nie op daardie oomblik vir jou sin nie.

In Psalm 118:29 sê die digter: “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Hy het ’n manier gekry om ’n gewone dag met buitengewone geesdrif aan te pak. Hy het die besluit geneem om te jubel en nie net op sy gevoelens te fokus nie.

Dit maak nie saak hoe ellendig jy vandag voel nie. Dit maak nie saak waardeur jy gaan of hoeveel seerkry daar in jou lewe is nie. Jy het ’n rede om te glimlag, want jy kan weet God is steeds in beheer.

Wees dankbaar, ongeag jou omstandighede

Volgens ’n internasionale reistydskrif is die Dooie See een van die tien gewildste toeristebestemmings ter wêreld. Een rede is dat die hoë konsentrasie minerale baie goed is vir jou vel. Mense wat nie kan swem nie, word ook die kans gegun om heerlik op die water te dryf.

Die Dooie See sal altyd die Dooie See bly, sonder enige lewende organisme wat rondom of daarin sal kan oorleef. Daar is geen uitlope in die see nie. Vars water wat daarin loop, word dus dadelik besmet en verander onmiddellik in soutwater.

In 1 Tessalonisense 5:18 lees ons: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” Hy wou nooit gehad het ons moes damme wees wat alles net vir onsself opgaar nie. Hy wil hê ons moet riviere wees wat uitvloei en ander seën.

Wanneer jy ’n slag wegkyk van jou eie probleme en iemand sien wat swaarder kry as jy, het jy die geleentheid om Sy liefde uit te deel. Tot voordeel van ander – en ook van jouself.

Tel jou seëninge, dan sal jy tevrede wees

Ek moedig jou aan om ’n lys te maak van alles waarvoor jy dankbaar kan wees. Dit gaan ’n baie lang lys wees, omdat ons almal soveel goed het waarvoor ons kan dankie sê.

Sluit die klein dingetjies, maar ook die groot goed, in. Dit kan so eenvoudig wees soos die sagte pels van die spinnende kat op jou skoot. Of iets groots soos dat jou ouers nog vir jou gespaar is.

Dink mooi oor alles, en wanneer jy klaar is met jou dankbaarheidslys, plak dit êrens op waar jy dit daagliks kan sien. Jy kan dit ook met ander deel – dit kan hulle net inspireer! Wie weet, dalk begin hulle hulle eie lys.

Wanneer jy weet waarvoor jy dankbaar is, is dit makliker om terug te gee en uit te deel. Dankbaarheid word dan die fokuspunt van waar jy jou besluite neem, gesprekke voer en mense se lewens aanraak en verander.

Karien Basson is ’n spreker en skrywer en is al vir meer as ’n dekade by die mediabedryf betrokke as joernalis en radio-aanbieder. Sy het ’n passie vir diere, die gemeenskap en sport. Sy was ook al een van Finesse se Vroue wat glo-verteenwoordigers.