Hoekom irriteer ons mekaar so?

293

Klein jakkalsies begin meteens oral kop uitsteek. Selfs die manier waarop hy sy koffie in die oggend afsluk, kan jou grensloos irriteer. Hoekom nou skielik?

Huweliksberaders glo as paartjies mekaar te min sien, gaan krakies oral in die verhouding begin wys. Julle is dalk geneig om liewer uit mekaar se pad te bly as julle so oor alles vassit. Die eintlike probleem is egter juis te min tyd saam.

Gee aandag as daar gereeld misverstande is

Behalwe dat julle mekaar frustreer, is daar kommunikasieprobleme oor alles. Hy het dalk iets tydens aandete gesê en nou glo jy dis ’n bedekte skimp oor die kos. Maar dis sommer afleidings wat nie op feite gegrond is nie.

Gebrekkige kommunikasie veroorsaak net nóg groter misverstand! Dan gebeur dinge soos kinders wat nie opgelaai word nie en dat die een die ander een die skuld daarvoor gee.

Julle is waarskynlik albei oorwerk en oorstuur, maar elkeen dink dat sy of haar omstandighede die ergste is. In plaas van om mekaar te ondersteun, word verwyte oor en weer geslinger.

Wanneer slaapkamerprobleme ook voorkom, is daar groot fout. Met al die faktore wat spanning in die verhouding skep, is dit geen wonder dat passie by die deur uit gewaai het nie.

Te min tyd is nie ’n verskoning nie

Dis maklik om te sê: “Daar is nie tyd nie!” Maar tussen die bladsye van julle dagboeke kruip daar dalk ’n uur in die week weg om saam te gaan middagete eet. Vergelyk skedules en maak ’n afspraak, anders gaan daar niks van kom nie.

Moenie skuldig voel om die verhouding eerste te stel nie. Ma’s dink dikwels die kinders se behoeftes moet altyd eerste kom. Jy doen eintlik jou kind ’n onreg aan as sy nooit sien dat Mamma en Pappa lief is vir mekaar en graag saam wil wees nie.

Beplan ten minste een uitgaanaand per maand. En sorg dat almal weet dat dit net julle aand is!

Aanraking is belangrik. Ons is so geneig om net te gesels oor belangrike sake soos rekenings wat betaal moet word dat ons nie tyd maak vir ’n druk of soen nie. Trek jou vingers deur sy hare as hy verbystap of masseer sy skouers voor die rekenaar. Lê ’n minuut langer in die bed en hou mekaar vas. Albei se dag sal soveel beter begin!

Elke vrou is verantwoordelik vir haar eie emosionele gesondheid. As jy nie genoeg slaap, oefen en ontspan nie, gaan jy nie ’n maklike mens wees om mee saam te leef nie. Manlief werk dalk laat omdat hy nie in jou geselskap wil wees nie. Verdeel ook die huishoudelike take regverdig sodat een nie uitbrand nie.

Wees vandag lief vir mekaar

Talle mense het al teruggekyk oor hulle lewe met dié verwyt: Het ek maar meer tyd gemaak vir die mense vir wie ek lief is! Het ek maar meer dikwels nee gesê vir onbenullighede.

Verlore tyd is vir altyd verby, maar ’n mens kan wel leer hoe om die geleende tyd wat jy oor het, die beste in jou huwelik te benut.

Kyk ’n slag eerlik na wat julle met die ure in ’n dag maak. Hou byvoorbeeld vir ’n week lank rekord van hoeveel tyd jy regtig vir jou man eenkant sit.

Hoeveel tyd word afgestaan aan die werk, huistake, Facebook, vriendinne?

Dit sal ’n goeie beeld gee van hoe jou prioriteite regtig lyk. En dan kan jy daadwerklik begin om julle huwelik eerste te stel.