Altyd passievol oor die lewe, tog ken ILNE BENADIE ook teleurstelling en mislukking. Máár sy weet hoe om kanse te waag en uit die lewe se lesse te leer.
Toe my oudste ’n paar maande oud was, het ek gereken dis tyd om iets nuuts te probeer. Los ’n bietjie die TV en kies koers na die korporatiewe wêreld toe.
Dit kan mos net lekker wees! Dink net – gewone werksure, verlof, om af te wees op publieke vakansiedae …
En toe, sowaar, met my min ervaring en al, kry ek die werk as skakelbeampte.
Dit het net ’n jaar gehou.
Nie almal is uitgeknip vir enige soort beroep nie, en dis oukei. Nou weet ek … Soms moet ’n mens maar hou by wat jy ken en waarmee jy goed is.
My leuse in die lewe is: Vat ’n kans, wen ’n prys. As ’n mens nie waag en probeer nie, sal jy nooit weet nie.
Dit was nogal vir lank ’n innerlike blokkasie. Omdat ek net TV-werk geken het, het ek lank gesukkel om in myself te glo.
Om so vroeg al te begin werk het, het dit my nooit die kans gegee om my identiteit te ontdek nie. Om nuwe goed te probeer nie.
Gelukkig word ’n mens ouer en kom agter daar is wel dinge, buiten toneelspel, waarmee jy goed is.
Ma-wees is een daarvan, maar meer onlangs ook die besef dat hier dalk ’n verskuilde talent is om kreatief te skryf.
Een groot deurbraak was toe ek ’n kontrak met Purple Chair Publishers geteken het om ’n kinderboek, Korrels se Avonture, uit te gee. Alles self geskryf en geïllustreer.
Met die korporatiewe fiasko in my agterkop, was ek maar versigtig. Maar vat ’n kans, wen ’n prys … En wat ’n ontdekking! Wat ’n wonderlike reis. Ek sou nooit gedink het dis moontlik om só iets te doen nie.
Teleurstellings is daar om ons iets te leer
Nou word dit al hoe makliker om myself in die rol van, onder andere, kinderboekskrywer te sien.
Dit het aanleiding gegee tot die besluit om Binnelanders te verlaat – sodat daar meer tyd vir my man, Marcus, kinders en stokperdjies soos skryf kan wees.
Dit was ’n moeilike besluit, maar definitief ’n stap in die regte rigting.
Die lewe bestaan uit seisoene, verskillende fases.
Party mense bly deel daarvan vir ’n leeftyd. Ander is net vir ’n rukkie daar, en dan is dit tyd om te laat gaan.
’n Mens kan elkeen onthou en waardeer vir wat hulle in daardie fase beteken het.
Ander mense, weer, kom en gaan soos wat die seisoene verander.
By elke mens op jou pad is daar iets om te leer.
My tweede huwelik het gewys daar is nie net een deksel vir elke pot nie. Die regte pasmaat word bepaal deur waar jou pot besig is om te prut.
Dit klink corny, maar die dag toe ek vir Marcus ontmoet het, het ek dadelik besef: Hierdie is my deksel.
Die een ding waarvoor ek gereeld vir Marcus dankie sê, is die les dat geloof nie ’n stel reëls en regulasies is om na te kom nie. Dit gaan nie oor godsdienstigheid nie, maar oor verhouding.
’n Mens hoef amper nie eens te sê jy is ’n Christen nie. Ander moet dit kan sien. Dis dan wanneer die Here die praatwerk doen, en jy net die instrument is.
Mense maak dikwels die opmerking: “Ilne, daar is ’n lig binne-in jou.”
Dis die grootste kompliment, en presies wie en wat ek wil wees. Nie perfek of hoogheilig nie, maar iemand wat mense goed laat voel.