Dit is belangrik om vas te stel wat die effek van inflammasie spesifiek op jóú gesondheid en gewig is. Sodoende kan jy jou dieet en leefstyl daarby aanpas.
Jou gene, dieet en leefstyl kan inflammasie laat toeneem
Jy het al alles probeer, maar jy verloor net nie gewig nie. Is daar moontlik iets wat jy mis? Kos speel vanselfsprekend ’n baie belangrike rol in gewigsverlies, maar so ook ’n hele klompie ander faktore. Slaappatrone, jou stresvlakke, beweeglikheid en natuurlik inflammasie kan gewigsverlies vir party mense moeilik maak.
Wanneer dit by gewigsverlies kom, is inflammasie met reg ’n woord wat kort-kort opduik. Inflammasie speel nie net ’n baie belangrike rol as dit by algemene gesondheid kom nie, maar ook in gewigsverlies.
Chroniese inflammasie speel verder ’n sentrale rol in sommige van die uitdagendste siektes van ons tyd. Dit sluit artritis, kanker, hartsiektes, diabetes, asma en Alzheimer se siekte in. En weer speel dit ’n baie belangrike rol in gewigsverlies.
In sekere situasies is inflammasie wel nodig om jou te beskerm. Chroniese inflammasie kan egter tot groot gesondheidskomplikasies en gewigstoename lei.
Maar hoe kry ’n mens inflammasie in jou liggaam, en hoe kan ons dit voorkom? Jou gene, hoe jy eet en jou lewenstyl speel alles ’n belangrike rol in die hoeveelheid inflammasie in jou lyf.
Daarom is dit ’n goeie idee om jou intoleransie en gene te laat toets. Daarna kan jy ’n leefstyl een dieet vind wat vir jou werk. Dit beteken nie dat jy minder moet eet, of ’n spesifieke dieetplan moet volg nie.
Jy kan steeds spesiale geleenthede geniet, maar met kosse wat vir jou liggaam werk. Jy sal meer energie hê en sentimeters begin verloor namate die inflammasie in jou begin minder raak.
Dit is belangrik om te weet wat inflammasie veroorsaak. Een van die groot sondebokke is stres. Stres veroorsaak verhoogde vlakke van kortisol. Dit word ook gekoppel aan verhoogde vet om jou middel, blootstelling aan chemikalieë en voedingstekorte en veral lae vlakke van vitamiene D, B6 en B12.
Kosse waarvoor ’n mens intolerant is, verskil van mens tot mens. Dit kan suiker, geprosesseerde kosse, onnodig bygevoegde groente-olies, kunsmatige versoeters of verfynde koolhidrate wees. Dit alles lei tot meer inflammasie in jou lyf.
Die regte kosse kan inflammasie in jou lyf verminder
Vir sommige mense kan suiwel ook inflammasie in die liggaam veroorsaak. As dit die geval is, sal dit die beste wees om saam met jou praktisyn die eliminasie-dieet te doen of vir ’n intoleransietoets te gaan.
Om oorgewig te wees kan ook tot inflammasie in jou liggaam lei. Jou DNS en genetika speel egter ook ’n rol in hoe jy gewig verloor.
Dit is daarom belangrik om ’n leefstyl te vind wat reg is vir jou genetiese samestelling. Navorsing het gevind dat mense wat ’n dieet volg wat geskik is vir hulle genetiese samestelling tot twee en ’n half keer soveel gewig kan verloor as mense op dieselfde dieet wat nie geneties geskik is om daarby baat te vind nie.
Maar wat kan ’n mens doen om die inflammasie in ons liggaam te verminder? Begin deur anti-inflammatoriese kosse te eet. Voorbeelde van anti-inflammatoriese kosse is borrie.
Hulle noem dit die inflammasieblokkeerder en dit is natuurlik heerlik in kerrie. Dit is ook baie lekker oor geroosterde blomkool.
Blaargroente, bessies, olywe, vis, avokadopeer, neute veral okkerneute, sade, kaneel, groen tee, klapperolie en groen groentes, soos broccoli. Dit is plantkosse, kos wat op die aarde groei. Hier kan ons werklik sien dat kos medisyne is.
Vermy kosse wat inflammasie veroorsaak. Dit is suiker, geprosesseerde kosse en kosse waarvoor jy sensitief intolerant is.
Drink genoeg water en probeer gaskoeldranke vermy. Slaap genoeg, sewe tot nege uur lank. Ongesonde slaapgewoontes kan inflammasie in die lyf vererger.
Beweeg jou lyf. Beoefen ontspanningstegnieke om jou stresvlakke so laag moontlik te hou. En lag baie. Sekere aanvullings, soos omega 3, kan ook help om inflasie minder te maak.
Vermy chemikalieë so ver moontlik. Gaan loer ’n bietjie na die bestanddele in jou produkte. Om ’n paar klein veranderinge te maak en ’n paar nuwe gesonde gewoontes te skep, mag dalk net gewigsverlies vir jou beteken.
Onthou, kos speel vanselfsprekend ’n baie belangrike rol in gewigsverlies, maar so ook slaap, jou stresvlakke en die manier waarop jy jou lyf beweeg.