Jy kan jou eie definisie van sukses skep. Glo net in jouself en in jou droom, besluit hoe sukses vir jou lyk en skryf jou eie suksesstorie, sê finansiële konsultant RONEL JOOSTE.
Volg jy ook graag ander se suksesstories? Bewonder jy die suksesvolle vroue op tydskrifvoorblaaie? Wens jy jy kon ook so suksesvol wees, so mooi, so goed gebou, so sprankelend, so stylvol geklee en so ’n fantastiese verhouding met jou lewensmaat hê?
Wat as jy ook so goed kon praat, so slim, so ryk, so dinamies was of so baie kon bereik?
Moenie iemand anders se sukses najaag nie
Hoekom moet jy net met bewondering toekyk hoe ander sukses behaal? Hoekom kan jy nie jou eie suksesstorie skryf nie?
Die definisie van sukses spesifiseer nie wat sukses is nie. Dit verwys slegs na die bereiking van ’n doelwit.
Een vrou wil die Comradesmarathon hardloop en onder die top-10 eindig. Die ander vrou wil haar tyd verbeter van 10 uur na 9 uur. Nog een wil net die moordende wedloop voor die afsnytyd voltooi.
Maak dit een vrou meer of minder suksesvol as die ander? Glad nie. Hulle het almal hulle doelwitte bereik en was dus almal suksesvol. Jy hoef nie iemand anders se sukses na te jaag nie.
Ons almal het drome en ideale, maar dit bly dikwels net drome en ideale.
Die meeste drome lê begrawe in die begraafplaas; mense wat nooit hulle drome verwesenlik het nie.
Wat keer jóú om suksesvol te wees?
Het jy al gaan stilsit en dink wat keer jou om jou drome te verwesenlik?
- Is jy onseker?
- Is jy bang?
- Weet jy nie waar om te begin nie?
- Hou ’n gebrek aan geld jou terug?
- Het jy nie genoeg tyd nie?
- Voel jy die tyd is nie reg nie?
- Wag jy dat iets anders eers moet gebeur?
- Wil jy nie uit jou gemaksone beweeg nie?
As jy weet wat die struikelblokke is wat jou terughou, is dit makliker om dit te oorkom. Dit is ook nie onmoontlik om dit te oorkom nie. Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.
Ek het nog altyd ’n droom dat ek eendag ’n groot wildsplaas met ’n lodge en ’n spa gaan besit. Dit klink na ’n droom wat te groot is om te verwesenlik.
Ek was die grootste struikelblok wat tussen my en my drome gestaan het. Niks kan my keer om my droom te bereik as ek daarin glo, ’n plan het om daarby uit te kom en iets daaromtrent begin doen nie.
Glo in jouself en in jou droom
Ek moes uit my gemaksone beweeg. As geoktrooieerde rekenmeester is ek van nature versigtig vir risiko, maar ek moes leer om risiko te omarm.
Ek en my sussie, Marli Jooste, het daardie eerste stap gewaag en ons eie gastehuis gekoop. Dit is ’n klein stap, maar dit is ’n stap in die regte rigting. Dit is ’n tree nader aan die groot droom. Dit gaan nie maklik wees nie, maar dit is deel van die groter prentjie.
Die waarheid is dat ons verantwoordelik is vir wat ons in die lewe bereik.
Dit maak nie saak hoe jou suksesstorie klink nie. Elke persoon se storie gaan anders wees, want mense se definisie van sukses verskil.
Verstaan wat God se groter plan met jou lewe is. Hou jou oë op Hom gerig om jou te help om daardie plan vir jou lewe suksesvol uit te leef.
Glo in jouself en in jou droom. Geen droom is ooit te groot om te bereik met God aan jou sy nie. Jy kán jou droom verwesenlik. Moet nooit toelaat dat iemand vir jou sê jy sal nie suksesvol wees nie. Hou op dink dat net ander sukses kan behaal.