Bitter, soet of sout, alles maak ons wie ons uiteindelik is. Aktrise DORETTE POTGIETER besef nou dat al is die pad alleen, is dit tog nie eensaam nie.
Die pad van ’n enkelma is vir niemand maklik nie. Die aakligste deel is om alleen kop te moet hou! Alle verantwoordelikhede is dan alleen myne.
Ons het almal verskillende behoeftes en om jou eie behoeftes op iemand anders te projekteer, gaan juis dit wat jy probeer beskerm, seermaak.
Dis uitdagend om nie jouself jammer te kry nie, om ’n balans te probeer handhaaf en nie te kwaai met jouself te wees nie. Ons kinders bring mos die beste en soms ook die slegste in ons na vore.
Wanneer ek moeg is en te swaar dra aan die verantwoordelikhede, sien ek hoe Lia ook swaarder trek.
Om jou naaste lief te hê soos jouself is een van die belangrikste eienskappe van menswees.
Dis verblydend om te sien hoe my dogtertjie reeds ’n natuurlike empatie het vir ander en die omstandighede waarin hulle leef.
Haar ma is ’n mens met empatie. Dit kom maklik om myself in ander mense se skoene te plaas en só ’n pad te stap om mense te help verstaan hoekom hulle doen wat hulle doen.
Eerlikwaar, die passie om ander te help, spruit uit my eie behoefte om gehelp te word.
Om sonder werk te wees kan jou so aftakel en jou selfbeeld so kneus dat jy met baie moeite weer daar opstaan.
Seerkrytye, alleentye en swaarkry moet verwerk word
As gelowiges word ons vrese deur God vir ons gedra. Ons het so baie familie en vriende wat regtig vir ons lief is.
Die pad is alleen, maar tog nie eensaam nie.
Die ander swaarkry is die wete dat daar moontlik nie iemand is wat my lewensmaat sal wees nie.
Hier binne is daar ’n belofte om niemand weer naby my hart toe te laat wat nie my filosofie en liefde vir Jesus kan of wil deel nie. Dis net moeilikheid soek!
Daar moes aan myself gewerk word. Om vir my kind te kan sorg het my gedwing om kreatief te wees en iets te begin wat volhoubaarheid vir ons kan beteken.
Vir tientalle jare moes ek baie terugslae verwerk. My drome was aan flarde. Dit het sterk-staan gevat om nie deur my eie seer en gebrokenheid enige emosionele leed Lia aan te doen nie.
Dis nou duideliker hoe om myself gelukkig te maak, en drome te verwesenlik.
Dis alles te danke aan al die seerkrytye, alleentye en swaarkry wat verwerk moes word.
Dit verg goeie beplanning, harde werk, toewyding en dissipline wat aangeleer is in ’n oorlewingstyd as vryskutaktrise.
Vandag staan ek “alleen” saam met my kind in sy lig en ek weet God het ’n lewensplan vir elkeen. Dis bevrydend om te weet wat jou regtig gelukkig maak.
Daar is nagte wat jy sit en werk, daar is mense wat jou pad kruis wat soms sonder doel voel. Maar daar is betekenis in die detail van ons elkeen se lewe.
Ek verbly my in die wete dat ek ’n lewende God aanbid. Die alleentyd is verby!