Om te kry wat jy regtig wil hê, is die meeste van die tyd nie so moeilik nie. Maar om te kry wat jy nou régtig wil hê, verg visie en ’n klompie doelwitte.
Wat wil jy nóú hê? Nog ’n episode, nog ’n bietjie deurblaai, ’n bietjie ontspanning, of dalk om daardie hele bak sjokolade-roomys op te eet. Dit is keuses waarmee ons elke dag worstel. En ons sal aanhou daarmee worstel solank ons nie duidelikheid kry oor wat ons régtig wil hê nie.
Om te droom en ’n visie te hê, is so belangrik vir momentum in ons lewe. Om te groei, motivering te hê en inspirasie te kry, móét jy droom en móét jy ’n visie hê.
As jy nog nie ’n visie het nie, knyp tyd af om vir jou ’n visie-bord te maak. Of as jy nie regtig een is vir prentjies nie, skaf vir jou ’n joernaal aan waarin jy alles neerskryf wat jy in jou toekoms wil sien.
Kyk na die verskillende gebiede in jou lewe. Hoe wil jy hê moet jou verhoudings lyk? Hoe wil jy hê moet jou lewe lyk, jou huis, jou liggaam? Dit is alles vrae wat jy kan vra om ’n groot en dapper visie vir jou lewe te kry. En dan begin jy dit in kleiner doelwitte opbreek.
Commit tot die lewe wat jy nou regtig wil hê, maar beloon jouself soms met iets wat jy regtig nóú wil hê.