Soms is ons so bang om seer te kry dat ons liewer nie te opgewonde raak nie. En só loop ons soveel vreugdes in die lewe mis.
Daar word soms ’n bietjie negatiwiteit aan opwinding gekoppel. Maar hoe is dit moontlik? Opwinding wil ’n mens dan laat ontplof van vreugde!
Dink ’n bietjie terug aan jou kinderjare, die aand voordat jy die eerste keer skool toe moes gaan. “Ma, ek kan nie slaap nie,” het jy geroep. En Ma antwoord: “Jy is te opgewonde, jy moet kalm word en probeer slaap.”
Selfs al is opwinding hierdie groot, positiewe vreugdevolle ding, kies baie mense om nie te opgewonde te raak nie, omdat hulle bang is hulle kry nog seerder as hulle dalk teleurgestel word. Ons moet ons denke oor opwinding verander! Opwinding is die ding wat die vuur van die lewe aanblaas.
Jy sal soms teleur gestel word. Maar kies jy dan eerder om bang en bekommerd te bly tot die oomblik wat jy (dalk) teleurgestel word? Óf kies jy om goed te voel en die lewe te geniet tot die oomblik wat jy (dalk) teleurgestel word?
Kies ’n lewe van opwinding, afwagting en vreugde!