Wolkskool kan jou kind help om nie net die werk te herken nie, maar dit werklik te verstaan, te onthou en met selfvertroue toe te pas.
Bekend beteken nie noodwendig jy ken die werk nie
“Ja, ja, ek ken dié werk.”
Dit klink bekend wanneer ’n leerder deur notas blaai en alles herken wat hulle sien.
Ons kan dit sommer die “o ja-metode” noem. Elke bladsy bring ’n “o ja, dié onthou ek!” totdat die boek toegaan en die antwoord skielik nie meer voor hulle lê nie.
Om weer deur jou notas te lees is deel van leer, maar dit beteken nie noodwendig dat jy die werk self kan onthou, verduidelik of toepas nie.
Daarom help dit om nou en dan die boek toe te maak en te kyk wat jy sonder hulp kan onthou.
Vra jou kind om in hul eie woorde te verduidelik wat hulle pas geleer het. Hulle kan ook die belangrikste feite neerskryf sonder om terug te kyk, ’n voorbeeld self uitwerk of vir jou verduidelik hoe hulle by ’n antwoord uitgekom het.
As hulle vashaak, is dit nie ’n ramp nie. Dit wys bloot watter deel van die werk nog ’n bietjie aandag nodig het voor die eksamen.
Moenie net lees nie, werk eerder met die inhoud
Goeie voorbereiding beteken nie noodwendig dat jou kind langer moet leer nie.
Dit gaan ook oor hoe hulle die tyd gebruik.
Laat jou kind byvoorbeeld ’n gedeelte deurlees en dan die boek toemaak.
Kan hulle drie belangrike dinge onthou? Kan hulle ’n vraag daaroor beantwoord? Of kan hulle die konsep vir iemand anders verduidelik?
Flitskaarte is ’n lekker manier om vinnig te toets wat jy weet sonder dat die antwoord heeltyd voor jou lê.
Oefenvrae help weer om te sien of jy die kennis kan gebruik wanneer ’n vraag op ’n ander manier gevra word.
As ’n antwoord verkeerd is, moenie net die regte antwoord lees en aanbeweeg nie. Kyk eerder waarom dit verkeerd was. Het jou kind die vraag verkeerd verstaan? Is daar ’n deel van die werk wat nog nie lekker sin maak nie? Of was dit bloot ’n foutjie?
Só begin jou kind agterkom watter werk hulle regtig ken en waar hulle nog ’n bietjie moet oefen.
Vind die gapings voordat die eksamen dit vir jou doen
Sodra jou kind weet waarmee hulle nog sukkel, is dit makliker om te besluit waaraan hulle meer tyd moet spandeer.
Hulle hoef nie noodwendig alles van voor af deur te werk nie.
Dit is waar Wolkskool lekker kan help.
As ’n konsep nog nie lekker sin maak nie, kan jou kind weer na die videoles kyk.
Flitskaarte help om belangrike inhoud te hersien, terwyl assesserings ’n goeie manier is om te sien wat hulle reeds onder die knie het en waar daar nog werk nodig is.
’n Verkeerde antwoord terwyl jy voorberei, is eintlik nuttig. Dit wys waar jy weer moet gaan kyk en gee jou ’n kans om dit reg te stel voordat die eksamen begin.
Moedig jou kind dus aan om nie net te vra: “Het ek hierdie werk geleer?” nie, maar eerder: “Kan ek dit verduidelik of doen sonder om na die antwoord te kyk?”.
Dis ’n baie beter toets as die “o ja, ek ken dié” wanneer die boek nog oop voor jou lê.
Help jou kind om slimmer vir die eksamen voor te berei met Wolkskool by wolkskool.co.za.