Soms kies ons om twee keer swaar te kry. Ons herleef die slegte tye van die verlede in ons gedagtes. Ons loop die oomblik waarin ons nou is, mis.
Die goeie (of slegte) ou dae is verby
Baie mense doen een van twee dinge. Hulle leef óf in die verlede, óf in die toekoms. Daar is lesse te leer uit die verlede en beplanning om te doen vir die toekoms. Ons moet egter nie te veel tyd en aandag daar spandeer nie, en nie nóú leef nie.
Ouer mense vertel graag vir hulle kleinkinders stories uit hulle verlede. Dit draai gewoonlik om hoe hulle van hier tot daar moes loop … hulle moes oral heen loop.
Al het hulle nie voertuie en al die ander geriewe gehad wat ons vandag het nie, het hulle nogtans ’n vol lewe gehad. Hulle kyk terug op al die herinneringe van ’n lang en wonderlike lewe. Hierdie stories is vol van kragtige herinneringe wat goed is om te onthou.
Sommige mense leef egter op ’n negatiewe manier in die verlede. Hulle dink net terug aan al die slegte dinge … die trauma. Hulle speel dit oor en oor in hulle gedagtes.
Al ervaar hulle nie op die oomblik die situasie nie, bly hulle geestelik en emosioneel daarin vasgevang, omdat hulle dit so gereeld in hulle gedagtes herleef. Hulle bly in die verlede op ’n negatiewe manier.
Ander mense leef weer in die verlede op ’n positiewe manier. Hulle het glorieryke dae gehad. Hulle was dalk op skool die vinnigste atleet, of die sterkste, of het dalk die mooiste bene gehad.
Hulle deel wonderlike stories oor hierdie glorieryke dae. Hulle noem dit die goeie ou dae. Hulle kyk terug op hulle lewe toe alles goed was, maar nou verby is. Vir hulle is die goeie van hulle lewe oor en verby.
Leer uit die verlede, maar beweeg aan
Of jy nou terugkyk op jou lewe met spyt en of jy die heeltyd daarna terugverlang, dit is nie hoe jy in die oomblik leef nie. Jy is besig om in die verlede te leef, of dit nou op ’n goeie of slegte manier is.
Die verlede dien wel ’n baie belangrike doel. Dit is daar vir geloofwaardigheid. Dit dien as bewys dat jy sekere dinge in jou lewe gedoen het. Jy het byvoorbeeld studeer, jy het gewerk, jy het suksesse behaal.
Jy gebruik dit as bewyse. Ek het hierdie en daardie gedoen. Dit is hoe ek gekom het waar ek vandag is. Jy kan die verlede respekteer, want dit gee aan jou die geloofwaardigheid om te staan op waar jy vandag in jou lewe is.
Dan kan ’n mens ook wonderlike herinneringe uit jou verlede hê. Ons kan terugdink aan wonderlike kinderjare, hoe ons gespeel het en mal was oor al die pret wat ons gehad het.
Jy kan ook uit die lesse van die verlede leer. Jy kan uit dit wat verkeerd geloop het, waardevolle lesse leer. Ons kan al hierdie dinge uit die verlede kry, maar ons hoef nie daarin te bly leef nie.
Moenie in die toekoms se swaarkry lewe nie
Baie van ons leef weer in die toekoms. Ons raak so behep met waarheen ons op pad is, wat ons wil doen en behaal, dat ons geheel en al daarop gefokus is.
Ons loop dan die huidige oomblik mis. Ons loop pret mis en bou nie goeie herinneringe nie, omdat ons so op die toekoms gefokus is.
Dit is goed en reg om vir die toekoms te beplan. Beplan daarvoor, belê daarin, wees voorbereid daarop, maar moenie daarin leef nie.
Sommige mense leef in die swaarkry van die toekoms. Hulle sê, ek dink nie ek sal dit kan regkry nie. Ek sal nie tyd hê om dit te doen nie, ek sal dit nie betyds klaarkry nie. Dit terwyl hulle nog nie eens naby die sperdatum is nie.
Hulle is egter nou al so bekommerd oor hoe hulle nie in staat gaan wees om dit betyds te doen nie, dat hulle nou al swaarkry. En dan kan kry hulle weer swaar wanneer hulle wel nie die spertyd haal nie.
Wanneer jy sien die toekoms of die verlede vat te veel van jou aandag en energie, plaas jouself terug in die oomblik. Herinner jouself daaraan dat daar op die oomblik vir jou voorsiening is. Dink aan alles waarvoor jy nou dankbaar kan wees.
Dit sal help om jou terug te kry in die huidige oomblik te kry. Om die oomblik saam met jou mense om jou, te geniet. Dit is waar al die wonderlike dinge gebeur.