Van kleins af soek ons almal na goedkeuring. Waak daarteen om nie so te vis vir erkenning dat jy van jou eie hartsbegeertes vergeet nie.
Jy gaan slegs vreugde in jou eie begeertes vind
Min mense weet regtig wat hulle in die lewe wil hê. ’n Klop op die skouer of ’n woordjie van erkenning verskaf jou toe nie soveel vreugde soos wat jy gehoop het dit gaan nie. Dalk omdat dit nie iets is wat jy vir jouself doen nie, maar vir ander.
Wat is jou grootste hartsbegeerte? Baie mense wil vryheid hê. Die meeste van ons wil maar dieselfde gewone dinge hê. Ons wil vryheid hê, ons wil gelukkig wees, gesonde kinders, ons wil ander help, ons wil dit hê, ons wil dat hê. Die basiese dinge.
Maar wat as ’n mens ’n bietjie dieper kyk. Dan weet baie mense nie wat hulle regtig wil hê nie. En omdat hulle nie weet wat hulle regtig wil hê nie, vind hulle nie vreugde wanneer hulle sukses behaal nie.
Dit gee hulle nie daardie gevoel van, ek het dit gedoen, ek het dit behaal, nie, omdat dit nie regtig hulle hartsbegeerte is nie.
Daarom moet ons duidelikheid kry oor wat ons regtig wil hê, sodat ons regtig kan leef! Dit is die plek waar jy weet hierdie is wat ek regtig wou behaal.
Soos ons van kind na volwassenheid beweeg, is daar altyd iemand wat ons wil beïndruk met dinge wat ons reg kan doen. Kyk, Ma, ek het al my kos opgeëet. Kyk, Pa, ek kan boomklim.
Dan het ons ook altyd iemand wat toekyk en sê, goed gedoen! Op skool is dit gewoonlik ’n onderwyser of ’n afrigter. Goed gedoen, dit is ’n baie goeie punt vir jou toets!
Ons is voortdurend op soek na hierdie erkenning, die goue sterretjie, die glimlag, die duime op. Soos ons egter ouer word, en ons, ons in die werksplek bevind, kry ons al hoe minder van daardie erkenning.
Ons hoor al hoe minder “goed gedoen”. Ons kry al hoe minder goue sterretjies. Ons probeer dan al hoe harder om vir mense te bewys dat ons reg doen.
Ons raak vasgevang daarin om mense tevrede te stel en te doen wat ons dink hulle wil hê ons moet doen of behaal.
Moenie jou hartsbegeerte vir ander se erkenning opgee nie
Ons vergeet wat dit is wat óns regtig wil doen. Om weer duidelikheid daaroor te kry, moet jy vasstel wat jou motivering is vir waar jy jou op hierdie oomblik bevind.
Soms is dit ons familie. Ek wil net na my familie omsien, dit is hoekom ek x, y, z moet doen. Ek wil net hierdie mens help. Ek moet net groei. Ek moet iets behaal. Ek moet wen in die lewe.
Sodra jy jou motivering verstaan, sal jy weet of dit regtig jou hartsbegeerte is. En of jou motivering bloot is om “hulle te wys”.
Dan gaan jy dalk besef dat dit net daaroor gaan dat jy vir hulle, wie hulle ook al mag wees … wil wys. Dit gaan dan oor hulle en nie oor jou nie. Fokus op jou hartsbegeertes!
Is die rigting wat jy met jou lewe wil inslaan, gegrond op ’n tydelike of langtermynsituasie?
Soms neem ons besluite wat gebaseer is op iets tydelik. Dinge is ongemaklik en voel nie goed nie. Jy voel jy moet nóú aanbeweeg en nie wag tot dit verby is nie.
Maar soms is daar ’n seisoen waarin ons net moet wag. Dit kan dalk drie maande wees wat jy net moes deurdruk, in plaas van om van koers te verander.
Maak daarom seker van wat die groot veranderinge aanwakker. Soms maak ons groot besluite wat op klein motiveerders gegrond is.
Skryf al jou idees en drome neer van wat jy nog altyd wou doen. Of dit nou is om te reis, ’n huis te bou, wat ook al! Dan begin jy om dit te vereenvoudig.
Wat is dit wat jy binne die volgende jaar of twee kan doen. Wat is dinge wat jy dalk kan saamvoeg. Jy wil dalk Mauritius toe gaan, en jy wil dalk daardie ekstra vyf kilogram verloor. Dalk kan dit een doelwit word.
Die geld wat jy spaar omdat jy minder wegneemetes koop, spaar jy vir jou reis na Mauritius. Só werk jy aan jou gewig terwyl jy spaar vir jou Mauritius-vakansie.
Vereenvoudig jou doelwit, voeg hulle saam en neem die eerste tree! Solank jy net daaroor droom, sal dit net ’n droom bly.