Dis die klein dingetjies wat belangrik is. Deur daar te wees vir ander en hulle menswaardig te laat voel, kan jy ’n lewe vir altyd verander.

Jy het seker al gehoor van Maslow se hiërargie van behoeftes. Daarvolgens is daar is drie verskillende vlakke wat vir ons bevrediging gee.

Die heel basiese vlak is ons fisiese behoeftes, wat eerste bevredig moet word, naamlik voedsel, veiligheid, suurstof en rus.

Daarna word dinge soos familie, werk en gesondheid baie belangrik. Die boonste vlak van sy hiërargie is om uiteindelik ’n betekenisvolle bestaan te voer – om ’n verskil te maak.

Laat iemand anders belangrik voel en vind jou waarde

Ek het nou die dag met ’n groep mense gesels oor wanneer iemand se lewe regtig ’n verskil maak. Soos julle dalk weet, is ek sedert 2015 by die Goue Leeus-rugbyspan betrokke, en daar is ’n klomp Springbokspelers onder hulle.

Ek herinner hulle gereeld daaraan dat ek nie een van hulle belangriker as ’n ander een ag nie. Die feit dat jy ’n Springbok geword het, maak jou nie belangriker as die een langs jou nie. Wat jou belangrik maak, is as jy iemand anders belangrik kan laat voel.

Vra jou af: Hoe voel ander mense in jou teenwoordigheid?

Kan jy iemand wat dalk vir die wêreld onbelangrik is, soos ’n skoonmaker, ’n hekwag of ’n ontvangsdame, so behandel dat hulle ook belangrik voel? Jy kan dit maklik regkry deur net daardie persoon op sy naam te noem.

Die meeste van hierdie mense dra ’n naamplaatjie. Die rede is dat die eerste plek van waarde in ’n mens se naam lê. Dale Carnegie het gesê: “Remember that a person’s name is to that person the sweetest and most important sound in any language.”

Noem mense op hulle naam en kyk wat gebeur!

Daar is baie mense wat sieldodende werke het, soos kassiere in ’n kettingwinkel of hekwagte, wat die hek daagliks vir onbekendes moet oop- en toemaak.

Baie mense behandel die persone wat hierdie werke doen, met minagting, asof hulle niks werd is nie. As daar net een mens is wat hierdie persoon agter die kasregister of die hek met respek hanteer, beïnvloed jy daardie persoon se dag ten goede – en dalk sy hele lewe!

Met ’n klein gebaar soos ’n glimlag beweeg jy nader aan jou lewensdoel.

Wees respekvol teenoor alle mense en maak ‘n verskil

As jy doelgerig leef, skyn jy ’n helder lig vir ander wat in die donker ronddwaal.

Doen klein dingetjies met respek en liefde, sodat dit ’n invloed op iemand anders kan hê. Doen wat jy kan, net daar waar jy is, met dit wat jy het om te gee.

Jy kan nie almal help nie, maar jy kan iemand help. Jy kan nie alles vir almal doen nie, maar jy kan iets vir iemand doen!

Gryp elke geleentheid aan om goed te doen. Vind rykdom wat nie oor geld gaan nie

Daar is ’n gesegde wat lui: Jy is net so ryk soos dit wat jy gee, en so arm soos dit wat jy hou.

Ek ken gesiene mense wat eenvoudig geen respek of konsiderasie aan die “klein mense” in die lewe betoon nie. Hulle dink hulle geld koop vir hulle die vryheid om nie met daardie mense hoef te assosieer nie.

Geld koop nie status of waarde nie – dit is ongelukkig net geldig vir ’n dwaas.

Neem vandag ’n besluit om ware rykdom te ervaar. Maak tyd om iemand se lewe met deernis en respek aan te raak.

Ek daag jou uit om te probeer om iemand in ’n beter bui te laat weggaan as wat hy na jou toe gekom het. Noem die winkelassistent op haar naam, glimlag vir die persoon agter die kasregister.

Jy hoef nie die baas van ’n groot onderneming te wees of ’n hoë pos te beklee om ’n verskil in iemand se lewe te maak nie. Jy kan dit doen net daar waar jy elke dag beweeg.

Ware betekenis is beskikbaar vir ons almal, maar word gekies deur min van ons.

Kies die verskil!