Kweek flukse kinders van kleins af

Kweek flukse kinders van kleins af 

Dis belangrik om jou kinders vroeg-vroeg al takies te gee om te verrig. Só word hulle fluks groot met die idee dat werk normaal is. 

Motiveer jou kinders om hulle kant te bring 

Ons maak ons kinders lui groot – met die beste bedoelings! Ons kry hulle jammer en wil net die beste vir hulle gee. Maar wie ly daaronder? Ons én hulle.

Hoekom is kinders vandag lui en gemaksugtig?

Ouers kry swaar, want hulle moet alles vir Jannie en Sannie doen of iemand ...

Dis belangrik om jou kinders vroeg-vroeg al takies te gee om te verrig. Só word hulle fluks groot met die idee dat werk normaal is. 

Motiveer jou kinders om hulle kant te bring 

Ons maak ons kinders lui groot – met die beste bedoelings! Ons kry hulle jammer en wil net die beste vir hulle gee. Maar wie ly daaronder? Ons én hulle.

Hoekom is kinders vandag lui en gemaksugtig?

Ouers kry swaar, want hulle moet alles vir Jannie en Sannie doen of iemand huur om dit te doen. Die kinders kry swaar omdat hulle nie leer dat harde werk deel van die lewe is nie. Hulle kry dan later ’n groot skok as hulle op hulle eie voete moet staan.

Die supervrousindroom waaraan die meeste van ons ly (of waaronder ons ly!), maak dat ons onsself oral wil bewys. “As ek iets gedoen wil hê, doen ek dit eerder self,” sê sulke ma’s, en wonder dan hoekom niemand hulle wil help nie.

Tegnologie speel natuurlik ook ’n rol. In ons kinderjare was skottelgoedwassers skaars en móés ons help met die skottelgoed. Die lae spiertonus in kinders se bolywe as gevolg van ure se sit voor die TV of rekenaar maak hulle letterlik te swak vir inspannende take.

Motiveer jou kroos om altyd hulle bes te doen. Dit is belangrik om vroeg te begin – hoe vroeër, hoe beter. Dis moeiliker om ’n twaalfjarige te leer werk as wat dit is om jou tweejarige aan takies gewoond te maak.

Wees maar stadig met die kritiek! Al moet jy later weer die bed gaan opmaak of die skottelgoed weer was, is dit belangrik dat jou kind voel jy waardeer haar bydrae.

Kinders moenie grootword met die idee dat hulle vir elke werkie beloon moet word nie, maar jy kan ’n groot ophef maak van iets wat regtig goed gedoen is.

Gee gerus ’n beloning soos ’n ekstra paar minute voor die TV of rekenaar. Om hulle sakgeld aan hulle takies te koppel is ook ’n goeie idee. Dis tog hoe die lewe werk.

Maak só jou kinders fluks groot 

Sê altyd dankie! Jou kind moet weet jy waardeer haar inset. “Dankie” leer haar om ook jóú harde werk of lekker ete te waardeer, en sy sal volgende keer minder traag wees om te help.

Takies moet gepas wees vir elke ouderdom. Jy sal tog nie jou tweejarige vra om haar doek weg te gooi, haar blokkies op te tel én haar pop te bêre nie. Sy sal glad nie alles onthou nie. Begin met eenvoudige dinge en voeg by soos hulle ouer word.

’n Kleuter kan haar eie speelgoed wegpak, vuil klere in die wasgoedmandjie gooi en haar bordjie by die wasbak gaan neersit. Rondom ses jaar is hulle al oud genoeg om self hulle kamers ’n bietjie netjies te maak, skottelgoed af te droog en die bad uit te was.

Tussen ses en agt jaar is tafeldek ’n goeie werkie wat hulle ook sommer help met somme maak. Om self hulle skoolskoene skoon te maak leer hulle om dit op te pas. Hulle kan ook verantwoordelikheid leer deur die hond of kat kos te gee.

Rondom nege, tien jaar kan hulle help met dinge soos kosmaak en tuinwerk. As jou kind nie nou al gewoond is om hiermee te help nie, is die kans goed dat hy of sy dit nooit sal wil doen nie.

Wortels krap, aartappels skil, tee maak en brood rooster is goeie voorbeelde. As hy belangstel in bak en brou, kan jy hom meer betrek. Leer hulle ’n liefde vir grond deur onkruid uit te trek of ’n klein groentetuintjie te maak.

As jou kinders nog nooit voorheen in die huis gehelp het nie, sal hulle nie oorloop van entoesiasme nie. Wees maar geduldig en probeer verstaan dat dit hulle uit hulle gemaksone vat.

Ignoreer doodeenvoudig die kyke en druk pluisies in jou ore vir die klagtes. Onthou, jy bewys hulle ’n groot guns deur hulle betyds te leer werk.

Deel die artikel

Méér artikels

Jy en skuldgevoelens oor jou kinders is dalk al ou vriende. Wees gerus, selfs mense met baie kennis oor kinderopvoeding maak soms ’n blaps. Opvoeding ...

Gesprekke met jou kind hoef nie uitdagend te wees nie! Hier is ’n paar maklike wenke oor hoe om oor moeilike onderwerpe te praat. Weet ...

Scroll to Top