Maak gebed jou eerste keuse

0
1630
Liesel Krause-Wiid

As die bekommernis aan jou knaag of as jou hart swaar voel, moenie by ander daaroor kla of self planne beraam nie. Begin net bid.

Ons los te dikwels gebed as ’n laaste uitweg. Daar is ’n lied wat sê: “Hoe verbeur ons tog die vrede, ag, hoe dikwels ly ons smart, net omdat ons nie ons node uitstort in Gods Vaderhart!” Ja, ons vertel dikwels vir almal hoe groot die berg voor ons is, in plaas van om met die Een te praat wat berge kan versit.

“Nee” of “Wag ’n bietjie” is ook ’n antwoord

Partykeer sê mense vir my: “Ek bid al weke en maande of jare oor ’n saak en dit voel of my gebede teen die plafon vasslaan. Hoe nou?” Nogtans word elke gebed gehoor. Moenie ophou bid omdat dit vir jou voel jy word nie gehoor nie.

’n Dogtertjie het eendag haar ouma bekyk terwyl sy room aan haar gesig gesmeer het. Sy vra toe vir haar ouma wat sy doen. Die ouma antwoord: “Ek sit room aan my gesig.” Die dogtertjie wou toe weet hoekom. “Want dit laat my vel jonk lyk en vat plooie weg,” antwoord die ouma. Die dogtertjie sê toe ewe droog: “Ouma, dit werk nie!”

Dalk voel jy ook so. Die belofte is egter dat ons gebede altyd gehoor word. Psalm 145 sê die enigste vereiste is dat jy opreg moet wees. Ons kry net nie altyd die antwoord wat ons verwag nie. Die antwoord is meestal “ja”. Ander kere sê Hy: “Wag ’n bietjie”. En soms is dit “nee”.

’n Sakeman vertel hy het tydens die resessie baie gebid vir uitkoms vir sy besigheid. Die oplossings het nie oornag gekom nie, maar hy het talle kosbare lesse geleer in die tyd wat hy gewag het.

Sien weer die wonders in alledaagse dinge raak

Ons is die ongeduldige Google-generasie wat nie daarvan hou om te wag nie. Ons tik immers ’n vraag vir Google in en dan spoeg hy onmiddellik dosyne antwoorde vir ons uit. Onbewustelik glo ons ook dat as ons op die gebedsknoppie druk, ons dadelik ’n antwoord moet kry.

Veronderstel jy plant ’n plantjie in jou tuin en staar vir 24 uur daarna. Gaan jy groei sien in daardie tyd? Beslis nie, maar as jy na ’n week of twee terugkom, sal jy kan sien dit het gegroei.

Dit werk ook so as ons met God praat. As ons terugkyk, sien ons Hy was al die tyd besig om in ons situasie te werk. Die antwoorde op ons gebede is nie altyd wow-gebeure nie. As jy mooi kyk, is die wonders te sien in die alledaagse dinge, soos wanneer ’n kind gebore word of dit reën na ’n lang droogte.

Jy verander as jy gereeld met Hom praat

Gebed maak jou kalm en rustig te midde van ’n lewe wat dalk chaoties is. C.S. Lewis het geskryf: “I pray because I can’t help myself. I pray because I’m helpless. I pray because the need flows out of me all the time, waking and sleeping. It doesn’t change God, it changes me.”

Iemand vra eendag vir ’n prediker wat dan as mense vir iemand wat siek is, bid vir volkome herstel en die persoon word nie gesond nie of sterf. Hy het geantwoord: “Onthou, volkome genesing gebeur net in die hemel.” Die woorde laat ’n mens nadink oor of ons regtig vra dat God se wil moet geskied, of ons eie wil…

Soms sê mense wat seergekry het vir my: “Ek sukkel om te bid. My hart pyn en ek kry nie die woorde uit nie.” Die goeie nuus is dat die Heilige Gees vir ons intree wanneer ons nie weet hoe en wat om te sê nie. Romeine 8:26 sê so mooi dat Hy vir ons instaan as ons swak is.

Moenie verbitterd raak oor slegte dinge wat met jou gebeur het nie, begin bid. Moenie weghardloop van jou probleme af nie, begin bid. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Praat met jou Vader.

Liesel Krause-Wiid, predikant

Kliek hier vir meer videos en artikels van Liesel.