FRANCOIS CHAPMAN, transformasie-afrigter en deelnemer aan die realiteitsreeks Survivor, glo jy moet leiding in jou eie lewe neem.
Neem beheer en wees ’n leier in jou lewe
Wanneer jy die woord “leier” hoor, is dit maklik om aan iemand anders te dink, aan jou werkgewer of iemand bekend wat jou inspireer …
Hoewel hierdie mense beslis ’n impak op jou lewe het en jou kan motiveer, is dit belangrik om te besef dat jy ook die leier van jou eie lewe moet wees.
As jy nie beheer het oor jou eie bestaan nie, sal dit vir jou moeilik wees om uit te blink by die werk, ’n goeie vrou en ma te wees en ’n gelukkige lewe te lei.
As jy ’n impak wil maak, moet jy beheer neem. Wanneer jy besef dat jy net een kans het om regtig te leef, sal die leier binne jou sommer baie vinnig wakker skrik.
Dan sal jy bereid wees om meer kanse te waag, te leer waar jy kan en met oorgawe liefhê. Dit is dan wanneer jy uitstaan bo ander en hulle sommer ook inspireer om dieselfde te doen.
Sonder dat jy dit besef, is jy dan ’n leier vir ander – iets wat jy nooit sou kon doen as jy nie die leisels van jou eie lewe styf vashou nie.
Ek glo dat jy ’n behoorlike daaglikse roetine moet hê. Die lewe bestaan uit ’n klomp uitdagings, wat ons kan vergelyk met hoë mure wat in ons pad staan.
Roetine is soos ’n stoomtrein. Dit verg baie energie om hierdie trein se wiele aan die rol te kry, maar as dit eers momentum opgetel het, is daar geen muur wat dit kan stop nie.
Om objektief na krisisse te kyk, is baie belangrik.
Kry meer selfvertroue deur leiding te neem
Ek probeer om kalm te bly en rustig na ’n krisis te kyk, sodat ek die moontlike oplossings of geleenthede daarin kan raaksien.
Ek vra myself wat ek daaruit kan leer en of ek moontlik iets moet verander sodat ek my nie weer in ’n soortgelyke of erger situasie bevind nie.
Ek herinner myself ook daaraan dat ek al voorheen groter probleme gehad het, maar dat alles toe op die einde uitgewerk het soos wat dit moes.
Moenie bang wees om nuwe dinge te leer of te ervaar nie. Maak jouself oop om meer te leer deur boeke te lees of te luister. Só vernuwe jy jou gedagtes en verander jy jou perspektief van lewe op ’n gereelde grondslag.
Stel jouself meer bloot aan nuwe omgewings en mense wat jou anders help dink. Die oomblik as jy jou denke verander, kan dit tot ander aksies lei wat vir jou ander uitkomste kan gee.
Wees net jouself om ’n positiewe impak op die wêreld te hê. Dink aan die lagies van ’n ui. Begin by jouself en die res van die lagies sal om jou begin vou.
Maak seker jy sorg vir jouself deur gesond te eet, te oefen, gereeld te bid, en om joernaal te hou.
Só herinner jy jouself dat jy nie van hierdie wêreld af is nie en ook net ’n seker tyd het om dit ten volle te ervaar en ’n verskil te maak.
Om lief te wees vir ander, moet jy eers lief wees vir jouself. Persoonlike leierskap en selfvertroue gaan hand-aan-hand, die een voer die ander.
Die oomblik as jy leiding van jou eie lewe neem, het jy meer selfvertroue, al werk dinge nie altyd uit soos wat jy gehoop het nie.