Vra enige ma hoe dit gaan en jy kry waarskynlik die antwoord: “Dit gaan goed, net besig.” Die prestasiegedrewe kultuur laat min tyd oor vir pret.
Maak tyd vir wat vir julle plesier bring
Die eise van die lewe vandag is enorm. Is daar nog tyd in jou dag om te stop, rustig te raak en jou
kind te kielie of ’n drukkie te gee? Of om sommer net iets spontaan buite die gewone dagroetine te doen?
Daar is ’n verskil tussen produktief wees en sommer net pret hê. Daar is soveel druk op kinders om elke dag produktief te wees en die meeste uit die dag te haal dat dit maklik is om die kuns te verleer om net te wees.
Dis is belangrik om pret te hê en om plesier en lag in ons huise te bring, want wanneer ons iets geniet, word die “voelgoedhormone”, serotonien en endorfiene, in ons brein afgeskei.
Vir sommige van ons is dit makliker om sommer net ’n luilekker dag saam te hê. Vir ander ouers is dit harder werk, en hulle sal ’n klomp verskonings maak hoekom dit byvoorbeeld makliker is om die kroos voor die TV te laat eet in plaas van aan die etenstafel.
Kwaliteittyd beteken om iets saam te doen wat betekenis het. In hierdie tyd fokus ons ons aandag op die ander persoon, en word gevoelens en gedagtes gedeel.
’n Kind leer baie basiese dinge in informele situasies wat deel uitmaak van die dag-tot-dag-roetine en gewoontes. Sommer die gewone dinge wat julle saamdoen, soos praat oor wat die dag gebeur het, hoe om moeilike situasies te hanteer en om sosiaal met ander mense te verkeer.
Vir almal se onthalwe moet ons dit ’n prioriteit maak om elke dag saam te lag en iets te geniet. Dit help om spanning en stres te verlig en bevorder die algehele gesondheid van al die huismense.
Geniet tyd saam sonder om baie geld te spandeer
Dit gaan dalk ’n groter uitdaging wees om jou ouer kind uit haar kamer te kry en weg van die skerms, as wat dit gaan wees om jou kleuter aan ’n speletjie te laat deelneem of iets saam te doen. Dalk sal jy hulle moet omkoop met roomys, maar doen wat jy moet om hulle deel van die “plesier-uur” in julle huis te maak.
Dit hoef nie noodwendig geld te kos om pret saam te hê nie. Jaag mekaar, stoei, kielie, rol – enigiets om sy lagspiere te prikkel. Maak grappies, al is dit hoe simpel. Gryp ’n kussing en hou ’n kussinggeveg of trek tou al is dit net met die handdoek. Dans en sing saam, of speel met ’n ballon en kyk hoe lank julle dit in die lug kan hou. Eet pizzas op die mat by kerslig, al is dit op ’n Dinsdagaand. Probeer om een keer ’n week ’n gesinsaand te hou wat tegnologievry is. Dit beteken geen selfone nie!
Die internet is vol stokperdjie-idees. Pak ’n projek saam aan en laat almal deelneem om te besluit watter aktiwiteit om te kies. Dit bevorder kreatiwiteit en samewerking.
Maak bedtyd deel van die dag se roetine. So gee jy struktuur aan hulle dag en kan die dag positief afgesluit word. Stel huisreëls in wat vereis dat daar met die take in en om die huis gehelp word. Betrek hulle wanneer jy kosmaak en skoonmaak. Dit leer hulle verantwoordelikheid en laat hulle voel dat hulle ’n bydrae lewer.