Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.
(Romeine 8:28)
Esmé, ’n kunsstudent, is aan’t skilder. Elke kwashaal word versigtig op die skilderdoek geplaas, om ’n realistiese weergawe te skep van die stillewe voor haar.
Die stilte in die klaskamer word skielik verbreek toe ’n kat deur die venster op die doek te lande kom en die verfblikke oor haar kunswerk keer.
Geskok en ontsteld bars sy in trane uit en spring van haar stoel af op. Sy plaas haar hande oor haar nat oë en gaan sit maar weer, magteloos … die skildery waaraan sy so hard gewerk het, is vernietig!
Esmé staar nog ’n paar oomblikke na haar kunswerk en tel toe maar weer haar verfkwas op.
Sy weet nie waar om te begin om dié ramp te herstel nie en besluit om haar professor te nader. Met meegevoel sit hy sy hand op haar hangskouertjies en belowe hy sal haar help.
Hy tel die skildery op en draai dit onderstebo. Hy vra haar vir haar kwas, begin die uitgegooide verf meng en transformeer haar skildery in ’n ekspressiewe impressionistiese kunswerk met elke passievolle haal wat hy gee.
Dalk is jou stillewe ook opgemors, dalk het iets ook in jou lewe gebeur wat jou lewe onherroeplik verander het. Die Here is so groot dat Hy ALLES ten goede sal laat meewerk as jy Hom innooi in die situasie.
Al is Hy nie die oorsaak van jou ongeluk nie, is Hy so magtig en getrou in sy beloftes dat Hy, net soos die professor, jou situasie kan en sal transformeer.
Hy verander ons perspektief en omskep dit tot iets mooiers as voorheen. Nooi Hom net om by jou te kom staan en oorhandig jou verfkwaste aan Hom.