Ons weet hoe goed roetine vir kinders en selfs volwassenes kan wees, maar jy hou dalk nie van die voorspelbaarheid daarvan nie.

Mammas weet daar is min dinge so goed vir ’n kind soos roetine. Veral vir werkende mammas, help daaglikse roetines om almal op koers te hou en te verseker dat hulle optimaal kan funksioneer.

Dalk is jy een van daardie vroue wat mál is oor roetine en het sisteme en prosesse in plek vir alles in jou lewe. Maar dalk is jy iemand wat sukkel met rigiede riglyne en vooropgestelde idees van hoe elke dag moet verloop.

As roetines al vir dekades werkende vroue help om meer doeltreffend en minder gespanne te wees, is dit die moeite werd om ten minste te probeer.

Sekere roetines is ononderhandelbaar. Maar die manier wat jy die roetines implementeer, is nie. As jy ’n oggendmens is wat ’n oggendroetine volg, hoef jy dit byvoorbeeld nie elke oggend in dieselfde volgorde te doen nie.

Maak ’n lysie van alles wat jy vroegoggend gedoen wil kry. As jy alles kan afmerk binne ’n sekere tyd, het jy jou eerste wen vir die dag. Die kuns is om jou eie spesiale manier te vind om dit wat gedoen moet word, met entoesiasme produktief en kreatief gedoen te kry.