Soveel vroue jaag steeds die idee van perfek-wees na, hetsy in mamma-wees, vrou-wees of sakevrou-wees.
Die meeste werkende mammas is dit eens dat hierdie strewe na iets wat eintlik nie bestaan nie, hulle by tye al moedeloos gehad het.
Dit het sonder twyfel al menige vroue se werksverrigting en hulle werksvervulling daarmee saam, negatief beïnvloed. Die strewe na perfek-wees en die druk wat ons op onsself en soms ook ander plaas om perfek te wees, is geensins bevorderlik vir ons loopbane, verhoudings of lewe nie.
Eerder as om energie te vermors om onsself oor perfeksie te bekommer, moet ons dit bestee aan een van die sleutels tot ’n suksesvolle loopbaan – professionalisme. Dit is seker een van die waardevolste eienskappe wat enigiemand kan hê.
Volgens Google is professionalisme die vermoë om deurgaans hoë standaarde te handhaaf in die werk wat jy doen en die manier waarop jy optree. Baie mense dink dit is onprofessioneel om jou werkslewe en jou persoonlike lewe te meng.
Hoewel dit seker gedeeltelik waar is, moet ons onthou dat ons almal mense met unieke stories en uiteenlopende persoonlikhede is. Ons emosies is die dryfveer agter alles wat ons doen en beïnvloed elke liewe besluit wat ons neem.