Skep ’n wegkomkans vir julle twee

1620

As die motor ’n diens nodig het, dink ons nie twee keer nie, maar as dit by ons huwelik kom, is ons suinig.

Die vonke spat net as julle verskil, nooit meer tussen die lakens nie. Julle praat oor alles maar nie oor hartsake nie. Julle het dalk tyd alleen nodig. Nie weg van mekaar nie, maar juis saam sodat julle kan uitkom by dit wat te lank verwaarloos is.

’n Maandelikse wegbreek is baie waardevol. Beplan vooruit en bespreek en betaal klaar daarvoor, sodat niks dit kan keer nie.

Vrydag sit woema in jou sekslewe

Volg Lorette Dye se raad vir ’n onvergeetlike aand. Sorg dat niks julle gaan onderbreek nie. Hou masseerolie byderhand en gooi ’n skoon handdoek oor die bed. Maak seker dat julle in ’n liefdevolle en toegeneë bui is. Stort saam of neem ’n heerlike skuimbad. Nooi mekaar dan met ’n glimlag na die voorbereide bed toe.

Raak jou maat se gesig saggies aan en streel sy hare. Beweeg daarna stadig en aandagtig na ander dele van sy liggaam: sy nek, arms, hande, maag, bene en voete. Sê hoe jy dit geniet om hom te sien en hom te liefkoos.

Soen hom oraloor. Doen dit sonder enige verwagtings – met jou volle aandag. Moenie so verwikkeld raak in die details van hoe om dit reg te doen dat jou gedagtes afdwaal nie.

As dit jou beurt is, ontspan en laat hom weet as jy iets geniet. Onthou, ’n man se seksuele vervulling kom grotendeels van die feit dat hy voel hy kan sy vrou se seksuele behoeftes bevredig.

Saterdag is die dag om “daardie” saak uit te praat

“As ’n mens al jare met ’n probleem sit, word dit nie in een dag opgelos nie,” maan kommunikasiekundige Marianne Louw. “Maar verklaar julle bereidheid om vandag iets te doen wat dinge beter sal maak vir die toekoms.”

Soek ’n rustige plek buite en neem sommer ’n piekniekmandjie en skryfgoed saam. Praat een-een julle harte uit vir nie langer as ’n halfuur nie. Moenie mekaar in die rede val nie – behalwe om ’n vraag te vra. Die hele idee is om in jou maat se skoene te klim.

Maak notas van dinge wat jou verras of wat belangrik klink. Selfs wanneer hy klaar is, moenie reageer op wat hy gesê het nie. Jy kan bloot sê: “As ek jou reg verstaan, voel jy…”

Gesels oor wedersydse wanopvattings wat uitgekom het en waar elkeen se gevoelens en idees vandaan kom. Onthou om te ontspan, ietsie te drink of te eet en die omgewing te bewonder.

Raak dan vir vyf minute stil terwyl julle oor moontlike oplossings dink. Maak beurte om julle idees met mekaar te deel.

Skryf aksieplanne neer vir die toekoms. Wees baie spesifiek. “Ek sal meer aandag aan jou gee” kan enigiets beteken. Sê liewer iets soos: “Ek sal elke aand ’n uur inruim…”

Sondag is belê-in-vriendskap-dag

Maak Sondag ’n dag vir vriendskap. Navorsing wys dat die meeste mense in hulle lewensmaat ’n pel soek. Een saam met wie hulle die lewe kan geniet, lag, nonsens praat en nuwe ervarings aanpak.

Julle kan vooraf gaan sit en elkeen apart ’n lys opstel. Noem alles wat julle in die verlede saam gedoen het wat jou laat ervaar het dat julle vriende is. Voeg aktiwiteite by wat jy nog graag saam met jou beste pel wou doen.

Ruil lyste uit en lees rustig deur jou maat s’n. Merk die dinge wat jy dink jy saam met hom wil en kan doen. Onthou, dit gaan oor jou maat se belewenis van vriendskap – nie jou persoonlike voorkeure nie. Kies dan een en beplan saam hoe julle dit gaan aanpak.

Onthou, jou maat se keuse is finaal en jy mag nie daaroor mor nie. Waag om dinge op ’n nuwe manier te doen en lag sommer net van lekkerkry.

As dit verby is, soek ’n rustige, romantiese plek waar julle vir mekaar kan sê hoe julle die dag ervaar het.