Maak tyd om te speel

1297

Wat is die verskil tussen ’n goeie verhouding en ’n voortreflike een? Die hoeveelheid pret en humor wat julle deel, maak die verskil!

As een (of albei) van julle gedurig verskoning moet maak omdat iets “belangrikers” voorgeval het, geniet julle verhouding nie voorkeur nie. Hoe meer julle saam kan lag en speel, hoe gesonder is die verhouding, verduidelik dr. Howard Markman in sy boek Fighting for Your Marriage.

Speel is die ligte kant van die lewe. Ons lewens het so vinnig en ernstig geword dat daar gewoonlik net tyd is om sukses na te jaag. Dit vra dus ’n doelbewuste besluit om elke dag te laat tel, om vir mekaar lief te wees en dit pret te maak.

Opwinding is baie belangrik in ’n verhouding

Sommige verhoudings se fut is binne die eerste paar jaar uit. Dan wonder hy en sy wat hulle ooit tot mekaar aangetrek het. As julle gereeld kortaf en geïrriteerd is met mekaar, het albei waarskynlik ’n behoefte aan opwinding, maar julle wag vir mekaar om die inisiatief te neem.

Wees jy die eerste om jou maat te bederf! Vra ’n slag eerlik: Hoeveel pret is ek om mee saam te leef? Dink dan aan ten minste twee maniere waarop jy die volgende week vir jou maat lekker en opwindend kan maak.

Moenie julle verhouding eers die geringste kans gee om saai en vervelig te raak nie. Werk doelbewus daaraan om byvoorbeeld elke verjaarsdag, Valentynsdag en huweliksherdenking interessant te hou.

Humor kan selfs ’n wankelende huwelik red

Pret is daardie spesiale tye waarin ’n paartjie die uitbundige kant van die lewe saam beleef. Dis die oomblikke waarin julle loskom van julle verantwoordelikhede en vir ’n rukkie heerlik lighartig en sorgeloos kan wees. Dit is wanneer jy die kind in jou toelaat om te ontsnap en om sommer weer met mekaar te speel.

Dis net so belangrik om die ligte kant van ’n moeilike situasie raak te sien. Om ’n humorsin te hê was al die behoud van menige verhouding.

Is jy so ernstig en liggeraak dat jy glad nie meer die snaakse sy van ’n situasie kan waardeer nie? Neem jouself minder ernstig op. As jy sukkel om dit alleen reg te kry, neem ’n komedie uit of kuier saam met vriende wat jou lagspiere laat oefening kry.

Hardloop deur die huis met kussings en begin ’n kussinggeveg of kielie hom. Val mekaar met ’n houer room of met watergewere aan. Daardie pret en plesier is broodnodig om in die rotteresies te kan oorleef.

Kies die soort pret wat vir julle twee werk

’n Mens hoef nie altyd dieselfde soort pret saam te hê nie. Daar is avontuurpret, deur ’n nuwe uitdaging saam aan te pak soos om Kilimandjaro te klim of saam te leer toneel speel. Binnepret gebeur wanneer julle mekaar terg en met mekaar spot.

Groepspret is om saam met vriende ’n boemelaarspartytjie te hou en iewers in ’n park vis en tjips te gaan eet. Estetiese pret is wanneer julle saam die mooi dinge van die lewe beleef, soos daardie sonsondergang waarna julle woordeloos kyk, om vir mekaar gedigte te lees of om musiek te speel wat die hart raak.

Alledaagse pret is die plesier wat julle kan hê deur klein geleenthede aan te gryp om saam te speel, soos om ’n frisbee rond te gooi, piekniek te hou, deur die sproeiers te hardloop of kaart te speel. Kyk hoe kreatief julle kan wees: voer mekaar in ’n restaurant; dryf saam op binnebande in ’n rivier af; drink met twee strooitjies uit dieselfde glas melkskommel of vlieg ’n vlieër saam.

Lag en speel laat die hartklop van julle verhouding versnel. In swaarkrytye sal die herinnerings aan die prettye julle huwelik houkrag gee. Dit laat julle met nuwe oë na mekaar kyk en laat julle hande vat en saam die dans van die lewe dans.