Jy geniet jou werk, maar soms word jy oorweldig deur skuldgevoelens omdat dit vir jou voel jy loop spesiale oomblikke saam met jou gesin mis.
Hou op skuldig voel en vind ’n gesonde balans
Dekades gelede was dit die tradisie dat die pa die broodwinner van die gesin was. Ma het tuisgebly en die kinders grootgemaak. Tye het egter verander en vandag het die meeste ma’s ook ’n voltydse beroep buiten die roeping van mamma-wees.
Vir werkende ma’s wat fisies en emosioneel gesonde kinders wil grootmaak, is balans die wagwoord. Dit beteken onder andere om in beheer te wees van wat ons voel, dink en doen. Balans gaan oor die drie B’s: beweeg, besef en besluit! Beweging bring balans. Dit herstel kalmte en verskerp jou fokus. Kies ’n sport wat by jou temperament pas en maak dit deel van jou daaglikse roetine: stap, draf, joga, roei of fietsry.
Moenie jouself met ander ma’s en hulle gesinne vergelyk nie. Besluit om nie ’n superma te probeer wees nie, maar net ’n “goed genoeg” ma wat nie altyd die regte ding sal doen nie. Erken as jy ’n fout gemaak het, probeer weer en beweeg aan.
Langtermynstudies wys dat kinders wie se ma’s voltyds werk, intelligenter is en dat die kans ook groter is dat hulle ’n professionele loopbaan sal volg. Kleuters wat elke dag met ander kinders by die kleuterskool of speelgroepie sosialiseer, ondervind ook minder spanning.
Daar is egter ook studies wat toon dat kinders wie se ouers voltyds werk se emosionele intelligensie nie so goed ontwikkel is nie. Dit kan soms tot verhoogde angs en gedragsprobleme later in die lewe lei. Kinders wil net geliefd, veilig en geborge voel.
Jy kry dit reg deur vaste roetines in die huis te hê en sekere gewoontes te kweek wat hulle koester.
Raak ontslae van skuldgevoelens deur roetines te skep
Dink aan kreatiewe maniere om die spanning uit die oggendroetine te haal deur soveel moontlik van die take die vorige aand te doen. Sit skoolklere reg, pak kosblikke en skooltasse in en maak seker al die huiswerk is afgehandel.
Maak oggende voorspelbaar deur roetines te volg wat vir julle as gesin werk. Maak ’n lysie en plak dit teen die yskas vas. Gebruik dalk vyf minute voor julle moet ry en kyk mekaar in die oë – praat oor wat julle vanaand saam gaan doen, lees ’n Bybelteks of skryf drie dinge neer waarvoor julle dankbaar is. Doen enigiets wat almal se emosionele tenkie sal volmaak voor die dag begin.
In die middae ná skool of werk is dit ’n goeie plan om eers te connect. Sit jou foon neer en wees bereid om jou doenlysie vir eers eenkant toe te skuif. Toe my kinders jonger was, het ons ’n “drukkies-en-gesels-tyd” gehad sodra ons die huis binnestap na ’n lang dag. Ek het hulle op my skoot getel en oor die dag gesels. Noudat hulle ouer is, eet ons saam en gesels oor die hoogte- en laagtepunte van die dag.
Stel grense vir bedtyd, want dit skep ’n gevoel van sekuriteit. Begin met ’n lekker warm bad of stort vir die kroos, en daarna kan daar saam Bybel gelees word. Hulle voel veilig en gekoester wanneer fisiese aanraking en pret deel van die daaglikse interaksie is.
Om ’n werkende ma te wees het voor- en nadele, uitdagings en bevrediging. As ons dit met moed, goeie tydsbestuur en doelgerigtheid aanpak, kan dit ’n wen-wen-situasie vir almal in die huis wees.