Fiksheidskenner, BIANCA VAN RENSBURG, glo jy moet fiks wees in elke aspek van die lewe om gesond én gelukkig te wees, en jou volle potensiaal uit te leef.
Maak tyd om jou gesondheid en welstand te prioritiseer
Fisieke fiksheid hou definitief voordele in as jy ’n bedrywige leefstyl handhaaf, maar jou siel en gees moet ook oefening kry.
Probeer daarom om die perfekte balans te kry tussen werk, gesondheid, verhoudings, geloof en selfsorg.
Wanneer jy na jouself omsien, voel jy stabiel en in beheer. Die meeste vroue kyk beter na ander as na hulleself en ek is self skuldig hieraan. Ons is versorgers, maar in die proses skeep ons onsself af, veral wanneer dit dol gaan.
Dit is belangrik om tyd te maak vir jouself en om jou gesondheid en welstand te prioritiseer, net soos wat jy met almal anders doen.
Stres kan jou siek maak as jy dit nie reg hanteer nie. Vir my begin alles in jou kop en by die keuse om nie toe te laat dat jou omstandighede jou geluk steel nie.
Aan die begin, is dit ’n moeilike oefening, maar só leer jy tegnieke aan om elke probleem te hanteer. Natuurlik gaan moeilike omstandighede nie oornag verdwyn nie, maar as jou gesindheid positief bly is jy halfpad daar.
Ek herinner myself daaraan dat ek nie in beheer is nie en dat ek moet toelaat dat die Here leiding neem. Dit gee my hart rustigheid.
Fiksheid laat jou goed voel oor jouself
Maak mekaar ’n prioriteit om julle verhouding te laat werk. Ons het albei besige skedules en ons werksure is lank. Dis baie maklik vir ons om verby mekaar te leef.
Ons verhouding is egter vir ons albei belangrik genoeg om vir mekaar tyd te maak. Twee keer per week maak ons saam kos en sit saam aan tafel en eet en gesels.
Dis wanneer ons opvang en hoor hoe dit werklik met mekaar gaan. Naweke doen ons dinge saam waarvan ons albei hou.
As jou maat gelukkig is, is jy outomaties ook gelukkiger.
Tegnologie wat konstant verander, hou my op my tone in die werkplek. As jy nie kan byhou met die ontwikkeling en verbetering van tegnologie nie, gaan jou groei beperk word.Ek doen baie navorsing en probeer baie nuwe bemarkingstegnieke, veral noudat byna alle dienste en produkte aanlyn beskikbaar is.
Oefening is werklik my hanteringsmeganisme vir byna alles in my lewe. Ek voel terneergedruk en emosioneel as ek vir ’n paar dae nie geoefen het nie.
As jy fiks is, voel jy goed oor jouself, jy gryp uitdagings makliker aan en jy sien vir baie meer kans in die lewe.
Die grootste mite is egter dat jy elke dag strawwe oefening vir ’n uur moet doen om fiks te wees.
Die geheim lê daarin dat jy konstant aktief moet bly, dit moet jou leefstyl wees.
Jou vriende moet ’n positiewe rol in jou lewe speel. Vriendskappe is soos kos vir die siel.
Ek koester my vriende deur tyd te maak vir hulle.
Die lewe jaag soms verby my, so ek beplan sommer afsprake lank vooruit om seker te maak ek sien my mense gereeld.