Lewenskoste styg vinnig en ons moet almal die gordels stywer trek. Jy kan nie jou uitgawes verminder as jy nie weet hoeveel en waarop jy dit spandeer nie. 

Hou boek van jou uitgawes al is dit moeite 

GPS het ’n baie eenvoudige funksie: om jou by jou bestemming te kry. As jy die bestemming intik, sal die GPS vir jou ’n paar opsies gee oor watter roete om te volg. Ons finansiële GPS werk op dieselfde manier. Die beginpunt is jou maandelikse begroting. Jou eindbestemming is dinge soos jou finansiële doelwitte vir eendag.

Die eerste stap tot finansiële vryheid is om ’n begroting vir jouself op te stel. Al is dit hoe pynlik! ’n Begroting is ’n vooruitskatting van jou inkomste en uitgawes oor ’n spesifieke tydperk in die toekoms.

Die GPS-koördinate lyk soos volg: Bestuur jou geld met een klein verandering. As jy R10 in jou beursie sit, spandeer net R9. As jy meer uitgee as wat jy verdien, is jy op dun ys. En dit is deesdae ’n algemene probleem. Dan begin jy skuld maak om jou skuld af te betaal, en voor jy jou kom kry, is jy diep in die moeilikheid.

’n Goeie idee is om ’n geregistreerde finansiële adviseur se hulp te vra. Hulle is opgelei om jou deur die begrotingsproses te help, veral as dit kom by lewensversekering, voorsiening vir jou kinders se studies en aftredebeplanning.

Die meeste van ons het nie ’n idee hoeveel geld ons elke maand uitgee nie. Die beste plek om te begin is om boek te hou van elke uitgawe. Maak ’n lys waar jy al jou uitgawes aanteken. Dit sluit ook die koeldrank en toebroodjie by die vulstasie vir middagete in.

Hou ook boek van onvoorsiene uitgawes en jaarlikse groot uitgawes soos vakansies en besoeke aan ’n tandarts of dokter. Deel dan die uitgawes deur 12 om uit te vind hoeveel jy maandeliks moet begroot daarvoor. As jy byvoorbeeld R3 000 ’n jaar aan Kers- en verjaarsdaggeskenke bestee, gaan jy R250 per maand daarvoor moet spaar. Dan hoef jy nie skuld te maak om hierdie uitgawes te dek nie.

Spandeer jou geld slimmer en spaar só! 

Prioritiseer jou uitgawes. Nommer een op dié lys is jou skuld. Daarna skryf jy ander noodsaaklike uitgawes neer, soos jou huispaaiement, petrol, kos ensovoorts. Heel onder op die lys kan jy luukshede soos fliek en uiteet insit.

As jou inkomste minder as jou uitgawes is, kyk waar jy kan besnoei. Die beste plek om te begin is onder aan die lysie – die luukses. Hou by jou begroting, al is dit hoe moeilik. Jy gaan dalk die eerste maand of twee sukkel, maar daarna word dit al hoe makliker.

Nou het jy ’n duidelike prentjie van waar jou geld heen gaan. En hopelik verdien jy meer as wat jy bestee. As dit nie die geval is nie, sal jy ’n plan moet maak.

Dink kreatief! Eet meer tuis en hou lees-of vasvra-aande om die eetkamertafel. Jy was dalk drie jaar laas by die gimnasium maar jy betaal nog elke maand vir jou lidmaatskap! As jy dit nie gebruik nie, kanselleer dit vandag. Dink eers mooi voordat jy iets koop. Het jy dit regtig nodig? As die antwoord nee is, los dit liewer.

As jy winkel toe gaan, maak ’n lys van dinge wat jy nodig net. Dit sal help dat jy nie met oorbodige items by die huis aankom nie. Kry ’n vriendin wat saam met jou spaar. So kan julle mekaar motiveer om nie daardie duur skoene of handsak te koop as die lus jou beetpak nie.

Probeer hierdie uitdaging: Neem ’n R100- noot. Hou dit in jou hand, voel daaroor en vou dit. Ken waarde daaraan toe. Die belangrike les wat jy hier moet leer, is om geld te hê sonder om dit te spandeer. Probeer nou om hierdie R100 êrens te bêre sonder om dit uit te gee. Besef dat dit die begin kan wees van jou pad na welvaart.

Dit is belangrik om aan te hou en deur te druk met jou begroting. Hou jou finansiële doelwitte voor oë en moenie swig voor versoekings en allerhande spesiale aanbiedings nie. Onthou, elke sent tel. Jy sien dalk net raak waar jy onnodig geld bestee.