Die realiteit is dat jou geldsake steeds hanteer moet word ná jou dood. Sonder ’n geldige testament verloor jy die reg en beheer daaroor.
Sê skriftelik hoe jou boedel verdeel moet word
Jou testament is ’n belangrike dokument, want dit bevat jou laaste wense rakende jou besittings. Dit is ’n manier om op papier te sê wat jy wil hê met die bates moet gebeur wat jy met bloedsweet bymekaar gemaak het.
Jy sê skriftelik wie wat moet kry, en hoe jou geld onder jou erfgename verdeel moet word. As jy nie ’n testament het nie, ontneem jy jouself hierdie voorreg.
Daar is ’n hele klomp negatiewe gevolge as jy sonder ’n geldige testament te sterwe kom. Jy neem steeds ’n besluit, maar jou besluit is om jou sake in die staat se hande te plaas om daarmee te maak soos hulle goeddink. Ek weet nie van jou nie, maar ek sal liewer self daardie besluit wil neem, anders moet ’n vreemdeling toesien dat dit waarvoor jy jare lank hard gewerk het, na die regmatige erfgename gaan.
Nog ’n groot nadeel daarvan om sonder ’n geldige testament te sterf is die feit dat daar baie verskuilde kostes kan wees. ’n Hofbevel sal heel moontlik nodig wees om byvoorbeeld sekere van die besluite rakende die boedel te kan deurvoer, en dit is natuurlik ’n duur storie. Wanneer iemand sterf, is geliefdes reeds emosioneel getraumatiseerd. Dan moet hulle nog finansiële krisisse ook hanteer bloot omdat jy nie ’n eenvoudige dokument laat opstel het nie.
Die afhandeling van ’n boedel word meestal vertraag omdat die oorledene se bankrekeninge bevries word. Al die bates waartoe jy toegang gehad het – jou kitsbankkaart, jou huislening ensovoorts – is ontoeganklik totdat die boedel afgehandel is.
Intussen kan die persone wat die boedel bestuur, dit wil sê die eksekuteurs, reël dat geld beskikbaar gemaak word vir die gesinslede wat agterbly of vir die naaste familie, maar dit kan ’n lang en uitgerekte proses word.
Jou erfgename moet weet waar jy jou testament bêre
Jou naasbestaandes moet weet waar jy jou testament bêre. Jou testament moet verkieslik deur ’n professionele persoon opgestel word, soos ’n prokureur, bank of trustmaatskappy wat daarin spesialiseer. Hoe ingewikkelder die boedel, hoe groter is die kundigheid wat nodig is. Die koste vir die opstel van ’n testament is nie vas nie. Dit sal afhang van die diensverskaffer wat jy kies.
As jy tans ’n geldige testament het, hou ’n getekende afskrif êrens en maak seker jou familie weet waar dit gebêre word. Stel dan ’n lys op van al jou bates en laste. Bates is byvoorbeeld jou motor, eiendomme, beleggings en so meer. Jou gesinslede moet weet waar die titelakte van jou huis en die eienaarsertifikate van motors gehou word.
Daar is tans sewe honderd en vyftig miljoen rand wat onopgeëis by banke lê. Die algemene aanvaarding is dat dit rekeninge is wat deur ’n persoon oopgemaak is. Die persoon sterf later en niemand weet van die bankrekening nie. Na drie jaar neem die bank dan eienaarskap van daardie onopgeëiste geld.
Stel vandag nog jou totsiens-lêer saam. Jou afskrifte of oorspronklike dokumente van die volgende in jou totsiens-lêer: jou testament, die kontakbesonderhede van jou eksekuteur en die volgende nommers: identiteitsnommer, pensioenfonds, mediese fonds, bankkaarte, bankrekenings, wapenlisensies en paspoort.
Skryf ook al die geheime kodes en wagwoorde van jou rekenaar, selfoon, epos en kluis neer. Hou afskrifte van alle kontrakte, huislening, selfoon, korttermynversekering en enige ander bewyse van beleggings, lewensversekering, aandelesertifikate, poliskontrakte en bankdeposito’s kan ook geliasseer word.
’n Laaste gedagte: Moenie ’n testament opstel en dan daarvan vergeet nie. Hou dit op datum, want een wat jare gelede opgestel is, weerspieël moontlik glad nie jou posisie ten tye van jou afsterwe nie.