Die beste tyd om vir aftrede te begin spaar is in jou vroeë twintigs, maar sê nou ek het dit nie gedoen nie, is alles verlore as ek eers in my veertigs begin spaar?
Wees ingelig oor jou finansiële behoeftes
Statistiek wys dat 97% van mense nie genoeg gespaar het om hulle in hulle oudag te dra nie. Om maandeliks jou versekering of pensioenfonds te betaal is een van daardie dinge wat ’n mens moet doen al wil jy nie eintlik nie.
Vir jongmense wat pas begin werk, is spaargeld vir aftrede ook die laaste ding waaraan hulle wil dink. Nogtans, dit maak nie saak hoe oud jy is nie, begin vandag nog voorsiening maak vir jou oudag.
Dit is vandag belangriker as ooit tevore om voorsorg te tref vir jou aftrede, want jy kan verwag om tot 16 jaar ná aftrede te leef.
Om nie vir jou oudag te beplan nie beteken om nie voorsiening te maak vir ’n tyd wat jy nie meer ekonomies aktief is nie. Iemand anders sal dus finansieel vir jou moet voorsien. Die staat speel hier ’n rol deur ’n maatskaplike toelaag te betaal, maar dit beloop tans net ongeveer R1 500 ’n maand.
Mense sukkel om met hierdie karige bedrag kop bo water te hou. Ons bevind ons in ’n toebroodjie-generasie, wat beteken die meeste van ons sorg vir ons kinders én ons ouers. Dit plaas ’n dubbele finansiële las op ons. Een rede hiervoor is dat ons nie goed genoeg ingelig is omtrent finansiële sake nie.
Ons word geleer hoe om geld te maak, maar nie regtig om ons geld goed te bestuur nie. Die meeste mense leer maar, soos ek, in die School of Hard Knocks.
As jy in jou motor klim en jy skakel jou GPS of Google Maps aan, moet jy ’n eindbestemming intik om te kom waar jy wil wees. Die GPS moet egter weet waar jy is anders kan dit nie sy funksie verrig nie. Dit werk dieselfde met jou finansies.
Maak seker jy het meer as een inkomstebron
Wat is jou finansiële behoeftes vandag? Waar en hoe bestee jy jou geld?
Dit verg net ’n eenvoudige begroting. Gestel jou totale uitgawes is R25 000 ’n maand. Bepaal nou hoeveel van daardie uitgawes jy ook op jou oudag gaan hê.
As jy 40 jaar oud is, weet jy jy gaan oor 25 jaar aftree. Jy moet dus inflasie byreken, want dit laat die koopkrag van jou geld afneem. Jou R25 000 vandag is moontlik R100 000 oor 25 jaar.
Jy moet nou reeds genoeg bates bymekaar maak of maniere vind om ’n inkomste te genereer om daardie R100 000 se uitgawes te dek. Dit is die maklikste manier om te bepaal hoeveel geld jy eendag nodig gaan hê. Hoe minder uitgawes jy het, hoe minder geld het jy nodig, en hoe meer tyd jy het om te spaar, hoe beter.
Daar is net twee maniere om jou welvaart te bevorder: om jou inkomste te verhoog of om jou uitgawes te verminder. Om uitgawes te verminder beteken bloot om jou geld beter te bestuur.
Jy wonder miskien nou hoe jy kan spaar of waar jy jou geld moet belê.
Baie mense belê geld in ’n bankrekening. Die nadeel is dat jy dalk hoogstens 5% rente op jou geld verdien. Die rentekoers waarteen jy geld vir jou huis of jou kar leen, is 10,25%. As jy dus motorskuld of enige ander skuld het, gebruik liewer enige geld in jou bankrekening om jou skuld terug te betaal.
Oor die vraag waar moet jy jou geld belê: Sorg net dat jy nie al jou eiers in een mandjie sit nie. Aandele is nie die enigste opsie nie en daar is ook baie risiko’s aan verbonde.
Onthou, dit is nooit te laat om iets vir jou oudag te begin wegsit nie. Hoe vroeër jy begin, hoe hoër jou opbrengs.
