Boeta het nie prefek geword nie en Sus word siek voor die netbaltoer. Ma moet troos. Hoe leer jy kinders om teleurstellings te hanteer?
Onrealistiese verwagtings kan jou kind ’n knou gee
Natuurlik werk die lewe nooit uit soos ons verwag nie, ook nie vir ons kinders nie. Dis heeltemal normaal. Elke ouer wil graag haar kinders se paadjie gelyk maak, maar jy kan nie al die seerkry van hulle af weghou nie.
Jou taak is om hulle te leer om op te staan, die stof af te skud en weer te probeer.
Kinders van alle ouderdomme wil hulle ouers se goedkeuring hê. Niemand hou daarvan om verstoot te word nie, sê die sielkundiges. Juis daarom is teleurstelling vir hulle moeilik om te verwerk. Jou kind wonder onbewustelik of sy steeds aanvaarbaar is en of julle haar nie nou gaan verwerp nie.
Natuurlik is dit normaal vir ouers om sekere verwagtings van hulle kinders te hê. As hierdie verwagtings egter onrealisties of moeilik bereikbaar is en hulle kan nie daaraan voldoen nie, veroorsaak dit baie onsekerheid.
Teleurstelling word die moeilikste hanteer in gesinne waar sukses en prestasie oormatig klem kry. Kinders uit hierdie gesinne glo dat hulle moet presteer om aanvaarbaar te wees. Hulle glo later dat dit al manier is om hulle ouers se liefde te wen.
Oupa was dalk ’n hekkieskampioen en daarom verwag julle dat Boeta in sy voetspore sal volg.
Vra jou af hoekom jy wil hê hy moet rugbykaptein word of onderskeidings kry. Onthou, elke mens is uniek en niemand kan soos sy broer of suster of ouma of oupa presteer nie.
Jy moet besef dat jy jou kinders se belangrikste rolmodel is. Jy kan hulle leer om die lewe se dwarsklappe te hanteer deur jou eie teleurstellings goed te verwerk. Wys hulle dat dit nie help om te huil of kwaad te word nie, maar dat harde werk en deursettingsvermoë die wenresep is.
Leer jou kind hoe om teleurstellings te hanteer
Wees geduldig as jou kind foute maak. Hulle moet besef ’n fout kan ook ’n leerervaring wees. Tref duidelik onderskeid tussen Sussie en haar gedrag. Sy self is onvoorwaardelik aanvaarbaar, maar jy mag haar gedrag kritiseer en verwag dat dit verander.
Die lewe gebeur beslis nie altyd soos ons beplan nie. Kinders moet weet dat dit goed genoeg is as jy jou plig gedoen het, ongeag die uitkoms. Daar is dinge waaroor jy beheer het, soos eksamenuitslae. Oor ander dinge het jy geen beheer nie, soos wie vir jou gaan stem vir die leerlingraad. Ander mense se verwagtings en kritiek moenie jou lewe beheer nie.
Daar is ’n paar waarskuwingstekens waarna jy kan oplet om uit te vind of sy spanning het sodat jy haar betyds kan help. Sy is dalk onnodig bekommerd oor dinge wat niks met die spesifieke gebeure van haar teleurstelling te doen het nie. Of sy stres baie oor moontlike beserings, eksamens, aanvaarding van die groep of sperdatums.
Natuurlik is daar ook liggaamlike simptome soos naarheid, maagpyn, duiseligheid, angstigheid en slaaploosheid. Jy sal dalk verras wees as jou stil, inskiklike kind skielik in woede uitbars. Of as sy volgens jou oor die kleinste dingetjie huilerig of depressief raak, of haar aan die res van die gesin onttrek.
As sy dink dat jy haar gaan verstoot omdat sy jou teleurgestel het, sal sy onnodig aan haarself twyfel en perfeksionisties wees. Sy sal dan in die toekoms ook altyd ander se aanvaarding soek. Sulke kinders is gewoonlik ontevrede met hulle prestasies, al bereik hulle hulle doelwitte. Op die lange duur kan dit sy tol eis.
Ondersteun jou kind in alles wat sy aanpak, ongeag hoe goed of sleg sy vaar. Dit leer haar dat sy waardevol is net soos sy is!