Geluk is nie iets wat van buite af kom nie. Geluk is ook nie afhanklik van jou omstandighede nie. Geluk is ’n KEUSE wat jy maak. Ja, jy kan KIES of jy gelukkig of ongelukkig wil wees.

Kies om gelukkig en dankbaar te wees …

Fokus op jou seëninge en dit wat jy het, in plaas van om te fokus op dít wat jy nie het nie. Probeer om hierdie week regtig op al jou seëninge te fokus. Noem hulle een vir een op en dank God vir elkeen.

Hoor wat sê die Psalmdigter: Dan sal ek die Naam van God besing, Hom met ’n danklied prys. So ’n offer is vir die Here verkiesliker as selfs ’n volmaakte offerdier (Psalm 69:31-32).

Daar is baie dinge wat vir ons geluk kan bring – ons moet dit net begin raaksien en dan vir ons Hemelse Vader dankie sê daarvoor.

Jou bron van geluk in ’n deurmekaar wêreld

“Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”

Hierdie vers sê in gewone Afrikaans dat jy baie gelukkig sal wees as jy aan ander goed doen, want dan sal God weer aan jou goed doen. Om gelukkig te wees, is binne ons bereik!

Ons moet begin uitdeel aan al die geluk wat ons as God se kinders beleef.

Baie mense streef na roem en status en is dan ongelukkig omdat hulle dit nie kry nie. Intussen is geluk binne ons bereik, naamlik om vriendskap en liefde aan ander te betoon.

Elkeen van ons kan dit doen. Steek net jou hand uit en raak aan diegene langs jou … wie dit ook al mag wees.

Geluk is nie iets wat jy kan koop nie

Toe die voormalige Springbokflank Juan Smith groot aanbiedinge gekry het om sy loopbaan by die Haaie of die Leeus voort te sit, het hy besluit om in die Vrystaat te bly.

Sy verduideliking was dat geld nie alles is nie, en dat sy gesin se welstand vir hom die belangrikste is. Hy het besef dat die lewe oor meer as geld gaan.

Wie van ons wil nie graag gelukkig wees nie? Dit is elkeen se wens om gelukkig te wees. Geld kan beslis nie daardie geluk koop nie. Ons is eintlik self verantwoordelik vir ons eie lewensgeluk.

Daardie lewensgeluk is binne ons bereik wanneer ons goeie waardes vir onsself stel en dit uitleef.

As ons ons beskikbaar stel in God se diens en tot sy eer, kan ander deur ons lewe geluk smaak – dan sal ons ook gelukkig wees.

Geluk kan in gewone dinge gevind word

Juanita Terblanche, ’n voormalige DA-LP, het ’n suksesvolle breinoperasie in Amerika ondergaan. Sy het drie kinders, en het destyds gesê: “Daar is so baie dinge wat ek nog saam met my kinders wil beleef: Danielle se matriekafskeid, die dag wanneer Gustav skool toe gaan en Christian se groot sangdeurbraak op die verhoog”.

Dit tref ’n mens dat hierdie vrou se wense en begeertes vir eenvoudige belewenisse saam met geliefdes was.

’n Mens moet jou genot en geluk in die gewone en alledaagse dinge rondom jou probeer vind. En dikwels is dit eers as ons agterkom dat die dood by ons deur staan, dat ons besef hoe belangrik ons verhouding met die mense rondom ons is.

Moenie dit te laat besef nie. Koester jou verhoudings.

Vind wat jou gelukkig maak en vreugde gee

Eintlik gee tieners wat konstruktief besig is hulle ouers die minste probleme. Die spreekwoord sê nie verniet ledigheid is die duiwel se oorkussing is nie. Dit geld ook vir volwassenes. Gaan kyk maar net in ’n ouetehuis na die verskil tussen ons senior burgers wat konstruktief besig is met iets, en na diegene wat net op die stoep sit en dink waar oral hulle in die lewe verontreg is.

Dit is belangrik om ’n doel in die lewe te hê, ’n mikpunt, ’n ideaal wat jou lewe rigting en koers gee.

In Lukas 4:43 het Jesus gesê: “Ek moet ook aan die ander dorpe die evangelie van die koninkryk van God verkondig, want daarvoor is Ek gestuur.” In Jesus se lewe was sy hoofdoel om die koninkryk van God aan almal te verkondig.