Elke mens beskik oor ten minste een spesiale Godgegewe gawe. Jy hoef dit nie te verdien, te koop of daarvoor te vra nie. Dit word vir jou gegee, verniet.
Wat genadegawes is en wat nie
’n Mens hoor dikwels dat iemand sê: “My vriendinne is almal so talentvol.” Elke persoon het ’n klein pakkie as geskenk gekry van God; jy as Christen moet dit net oopmaak en gebruik.
’n Gawe is… ’n Geskenk wat God vir elkeen van sy kinders gee; dis ’n natuurlike aanleg of talent. Volgens die Bybel rus die Heilige Gees die Christengelowige toe met gawes waarmee hulle Sy Woord kan uitdra en Sy Liggaam kan opbou. Die gawes van die Heilige Gees word saamgevat in 1 Korintiërs 12 en ook in Romeine 12, waar dit genadegawes genoem word.
’n Gawe is nie… Nie een van die gawes wat aan jou geskenk is, is belangriker as die ander een nie. Elkeen is op sy eie ’n spesifieke vereiste of kriterium vir of iemand “die Gees het” of nie. Dit is ook nie die enigste gawes wat bestaan nie; daar kan ook ander gawes wees wat die Heilige Gees gebruik om die liggaam van Christus op te bou, te versterk en uit te brei.
Wat sê die Bybel? Gawes is geskenke uit God se hand wat Hy vir ons gee sonder dat ons dit verdien. Daar is ’n verskeidenheid genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; daar is ’n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; daar is ’n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring (1 Kor. 12:4-6).
Jou geestelike talent is van God af
Jy kon dalk meer as een geestelike geskenk van God gekry het, maar daar is een primêre gawe wat jou innerlike dryfkrag is – en dit is nie iets wat gegee word om jouself te verryk nie, maar eerder om ander te dien en aan te vul.
Waar begin jy soek na jou gawe? ’n Onbekende skrywer het gesê: “Each of us is an angel with only one wing. We can only fly by embracing each other.” Elkeen van ons het een of ander tyd die ondersteuning van iemand anders nodig. In Romeine 12 word daar van genadegawes gepraat: gawes wat gebruik moet word om ander mense te ondersteun of te lei.
Gawes is nie altyd alledaagse goed nie. Hier is so ’n voorbeeld. Dit is al ’n geruime tyd dat Berdine ’n gevoel van empatie ervaar vir mense wat hulpbehoewend is. Sy het nog altyd ’n mate van jammerte gevoel vir mense wat swaarkry of hartseer beleef. Maar sedert haar bekering het haar onbetrokke jammerte gegroei tot ’n passie om werklik ’n verskil in mense se lewens te maak.
Hierdie sensitiwiteit vir mense in nood is die geestelike gawe (barmhartigheid) wat sy van God ontvang het. Hierdie gawe is nie dieselfde as ’n natuurlike talent soos sing of skilder nie.
Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie. Dit is aan jou gegee deur die profesieë toe die raad van ouderlinge jou die hande opgelê het (1 Tim. 4:14).
Hoe om jou unieke gawe te ontdek
Om jou gawe(s) te ontdek, moet jy jouself leer ken; jy moet bid en die Bybel bestudeer, en jouself blootstel aan verskillende bedienings en bewus raak van die geleenthede wat God jou gee.
As jy jouself ken, sal jy weet waarin jou spesiale aanleg, natuurlike aanvoeling en passie lê. Luister ook wat ander oor jou spesiale bekwaamhede sê. Stel God eerste in dit wat jy doen en jy sal sukses behaal. Kyk goed na jou waardes en prioriteite. Wat is vir jou belangrik? Waar staan God op jou lysie? Stel Hom eerste in alles wat jy doen, dan sal Hy jou pogings met sukses bekroon. In die identifisering van jou gawe(s) is dit belangrik om God te vra om jou te lei. Bid daaroor en bestudeer die Bybel. Jy mag dalk met ’n Bybelkarakter identifiseer, en só agterkom waar jou passie lê.
Om jouself aan verskillende bedienings bloot te stel beteken nie dat jy aan die voorpunt van ’n spesifieke bediening moet staan nie. Dit beteken eerder om by ’n paar korttermynprojekte in jou gemeente betrokke te raak en só uit te vind waar jy die grootste vervulling ervaar.
Partymaal gaan ’n deur vir ons oop of ons voel gelei om aan te meld vir diens waar hulp in die gemeente benodig word. Dit is dikwels God se manier om jou te help om jou spesifieke gawe te ontdek en te ontwikkel. Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is (Ps. 119:130).
Maak net jou Godgegewe geskenk oop
Jy maak jou Godgegewe geskenk oop deur dit te gebruik. Die verhaal van die slawe wat elk ’n deel van hulle eienaar se besittings gekry het om op te pas, kan vergelyk word met die manier waarop ons God se genadegawes in ons lewens gebruik. Is jy soos die slaaf wat sy vyf muntstukke verdubbel het of soos die slaaf wat een muntstuk ontvang en dit begrawe het?
Geestelike gawes oftewel genadegawes is geskenke wat God spesiaal vir elkeen van ons, sy kinders, uitgesoek en toegedraai het in blink papier. En elke geskenk wat vir jou bedoel is, het jou naam op. God het genadegawes aan jou gegee en Hy wil dit vir onderlinge diens gebruik. Jy moet jou gawes so beoefen dat jy eintlik deursigtig word, sodat God sigbaar word, sodat dit duidelik kan wees: Dis eintlik God wat werk.
God verwag van ons om die gawe(s) wat Hy vir ons elkeen gegee het, te gebruik. Deur jou gawe te gebruik is jy gehoorsaam aan God, en Hy verwag dit. Jy sal soms gawes bykry, net soos die slawe wat hulle muntstukke verdubbel het. Jy sal ook meer effektief raak in jou huidige gawes.
Sou jy nie jou gawes gebruik nie, sal dit van jou af weggevat word, net soos die lui slaaf wat sy een muntstuk verloor het. Jy verwaarloos ook God se doel en plan vir jou lewe. Toe sê sy eienaar vir hom: “Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel” (Matt. 25:21).
God wil jou en jou genadegawe gebruik
Elkeen van ons beskik oor ’n geestelike gawe. Daar is nie een gelowige wat geen gawe van God af ontvang het nie. Dit is iets waarvoor jy aangelê is, waarmee jy gemaklik voel en wat jy goed kan doen.
Jy moet moeite doen om vas te stel watter spesifieke gawes God aan jou gegee het. Dit is dikwels die goed wat jy graag en goed doen. Daar kan egter ook partykeer ’n “verskuilde” gawe wees, wat jy eers later in jou lewe ontdek. God wil jou gawe gebruik om die mense om jou te versorg en daarom moet jy biddend vasstel waar en hoe God jou wil gebruik. God se plan kan net volledig uitgevoer word wanneer Christene hulle gawes ontwikkel en voluit gebruik.
Jou gawe gee jou die vermoë om God se werk te doen. In Matteus 25 lees ons van die eienaar wat op reis wou gaan en aan elk van sy slawe muntstukke toevertrou het. Hierdie muntstukke kan vergelyk word met die geestelike gawes wat God aan elkeen volgens ons eie vermoë toevertrou. Hy sal jou nie meer gee as wat jy kan behartig nie. Jou gawe kom van God af.
Omdat God dit vir jou gee, is dit die perfekte geskenk en iets wat jy met groot sukses en vervulling kan gebruik as jy dit in diens van God stel. Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het (Rom. 12:6).
Gebruik jou talente en wees ’n lig vir die wêreld
Mense kyk na jou en sien wat jy doen. En, sê Jesus, as ligdraer in God se koninkryk moet mense sien dat jy goeie dinge doen, dit wil sê goeie werke doen. Natuurlik moet jou goeie werke sigwaarde hê. Maar wees versigtig om jou goeie werke sigbaar te maak.
Jy moet jou lig so laat skyn dat God daardeur verheerlik sal word. Die lig moenie op jou as persoon val nie; die mense moenie hulle hande saamslaan oor jou voortreflike dade nie. Die lig moet op God val en Hy moet verheerlik word.
Ons is nutteloos vir Hom as ons net soos die wêreld is. Christene is nie veronderstel om maar met die wêreld saam te smelt nie. Jy moet ’n positiewe invloed op die wêreld hê. As ons soos Christus lewe, sal ons soos ’n lig wees, ’n lig wat vir ander wys hoe Christus is. Ons steek ons lig weg as ons stilbly wanneer ons veronderstel is om te praat; saam met die stroom beweeg; ontken dat ons die lig ontvang het; toelaat dat die sonde ons lig laat verdof; nie vir ander verduidelik waar ons lig vandaan kom nie, en die behoeftes van ander ignoreer.
Jy moet ’n helder baken van waarheid wees en nie jou lig vir die res van die wêreld wegsteek nie. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik (Matt. 5:16).
Hoekom jy jou gawes ontvang het
God het aan jou jou gawes geskenk sodat jy ander kan dien asook om die genade van God aan ander te bewys. Met jou gawes bou jy die liggaam van Christus op, en jy verheerlik Hom deur jou gawes te gebruik. Om jou gawes aan te wend vir dit wat nuttig is vir God se koninkryk is nog ’n besondere rede.
As jy jou gawe(s) ontdek het, kan jy op verskillende maniere betrokke raak, byvoorbeeld op ’n profetiese manier. Gebruik jou gawes in gebed- en genesingsbediening (voorbidding, hospitaalbesoeke, berading, diens as ouderling) of in Woordbediening. In lering kan dit ook nuttig wees; raak betrokke by opvoedkundige bedienings soos Woordbediening, Bybelstudie, die aanbied van werkswinkels of seminare, jeugbediening, opleiding en navorsing. Jou geskenk is dalk om betrokke te raak by berading, hospitaal- of huisbesoeke, of evangelisasie. Jy kan ook ’n aanbiddingsleier word.
Wees prakties betrokke en meld aan vir geldinsamelingsprojekte, kindersorg, nagmaalvoorbereiding, jou kerk se videobediening of help uit in die kerkkantoor. Raak finansieel betrokke by kinderevangelisasie, sendingwerk, uitreikveldtogte, versorgingsentrums of die verspreiding van Bybels. Of gee van jou tyd hiervoor. Gebruik jou unieke gawe dalk in ’n leierskapsbediening as voorsitter, organiseerder, huisselleier, sendingkoördineerder of kerkadministrateur. ’n Laaste manier is om besoek te gaan aflê by tronke en hospitale, kos en klere uit te deel of met die versorging van bejaardes of gestremdes te help.
As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee (Rom. 12:7).