Eksamentyd kan vir kinders en hul ouers ’n uitdagende tyd wees. Dr. Rümando Kok, senior lektor en kliniese sielkundige aan die Noordwes-Universiteit (NWU), gee wenke vir eksamenvoorbereiding.
Ouers speel integrale rol in eksamensukses
In graad 11 en 12 neem akademiese druk drasties toe, terwyl kinders terselfdertyd besig is met belangrike loopbaankeuses wat ’n invloed op hul toekoms het.
Ouers kan nie namens hul kinders leer nie, maar hulle speel ’n belangrike rol om ’n gesonde omgewing te skep waarin hul kinders die beste moontlike kans het om optimaal te funksioneer.
Eksamenvoorbereiding gaan dus nie bloot oor “meer leer” nie, maar oor goeie beplanning, doeltreffende studiemetodes, voldoende rus, emosionele ondersteuning en die ontwikkeling van onafhanklikheid.
Een van die grootste foute wat kinders maak, is om eers intensief te begin leer wanneer die eksamen op hande is.
Hierdie benadering plaas geweldig druk op die leerder en kan dan angstigheid veroorsaak. Ouers kan hul kind aanmoedig om vroegtydig ’n realistiese studieplan op te stel waarin die eksamenrooster, vakinhoud en beskikbare studietyd in ag geneem word.
Groot hoeveelhede werk kan in kleiner, hanteerbare dele opgebreek word.
Die kind moet identifiseer watter dele van die werk goed verstaan word en waarmee hy of sy sukkel.
Beplan volgens beskikbare tyd en die hoeveelheid aandag wat elke vak benodig.
Moenie vergeet om tyd vir rus en slaap in te beplan nie. ’n Onrealistiese studieplan kan tot frustrasie en selfs uitbranding lei.
Die NWU wil graag hê dat elke leerder sy beste self moet wees.
Besoek https://studies.nwu.ac.za/af/studies/graad11-inligting vir meer inligting.
Skep vir jou kind ’n rustige en gestruktureerde leeromgewing
Kinders konsentreer beter wanneer hulle ’n vaste plek het waar hulle kan studeer.
’n Stil, goed beligte plek met die nodige skryfbehoeftes kan ’n groot verskil maak.
Ouers kan ook help om afleidings soos selfone, sosiale media, videospeletjies en televisie te beperk.
Dit beteken egter nie dat tegnologie heeltemal verbied hoef te word nie. Selfone en rekenaars kan ook waardevolle opvoedkundige hulpmiddels wees.
Die belangrikste is om doelbewuste grense te stel en goeie selfdissipline daarbinne te ontwikkel.
Meer studietyd beteken nie noodwendig beter leer nie.
Doeltreffende studie behels aktiewe deelname aan die leerproses.
Moedig jou kind aan om tegnieke soos aktiewe herroeping, oefenvrae, vorige vraestelle, flitskaarte en opsommings te gebruik.
Dit is ook nuttig om leerwerk in die kind se eie woorde te verduidelik eerder as om bloot teks oor te skryf.
’n Goeie toets van begrip is om ’n konsep aan iemand anders te verduidelik.
Ouers hoef nie noodwendig die vakinhoud te ken om te help nie. Hulle kan eenvoudig vra: “Verduidelik vir my wat jy vandag geleer het.”
Doeltreffende eksamenvoorbereiding gaan oor baie meer as net leer
Help jou kind om swak areas te identifiseer.
Leerders studeer soms hoofsaaklik die werk waarmee hulle reeds gemaklik voel.
Dit skep ’n gevoel van vordering, terwyl moeiliker gedeeltes onaangeraak bly.
Kinders moet vroegtydig ’n onderwyser of ander toepaslike persoon vra vir hulp met leerwerk wat hulle sukkel om te verstaan en/of sukkel om toe te pas.
Goeie slaapgewoontes is ’n belangrike deel van eksamenvoorbereiding.
Laatnag-leersessies kan produktief voel, maar onvoldoende slaap kan konsentrasie, aandag, geheue en emosionele regulering negatief beïnvloed.
Moenie elke gesprek oor punte maak nie.
Vrae soos “hoeveel het jy gekry?” of “het jy beter as Koos gedoen?” kan die fokus vanaf leer na prestasie en vergelyking verskuif.
Vra eerder hoe die kind die vraestel ervaar het. Die boodskap behoort te wees: “Jou prestasie is belangrik, maar jy is vir ons belangriker as jou prestasie.”