Weet jy dat jy meer as jou foute is?

Weet jy dat jy meer as jou foute is?

VASHTI PRINS is vir lank beheer deur ’n strewe om in alles perfek te wees. Tot sy besef het “perfek” is ’n droom wat nie bestaan nie.

Ek moes besef: “Vashti, jy as mens, foute en al, maak saak.”

Tot dusver is dit my grootste uitdaging. Om aan ’n gesonde verhouding met myself te bou. Om bewus te raak van wie ek is, die impak wat ek maak en hoe ek “opdaag” in hierdie wêreld. Die vermoë om in die hier en nou te leef.

Iets waaraan daar tans ...

VASHTI PRINS is vir lank beheer deur ’n strewe om in alles perfek te wees. Tot sy besef het “perfek” is ’n droom wat nie bestaan nie.

Ek moes besef: “Vashti, jy as mens, foute en al, maak saak.”

Tot dusver is dit my grootste uitdaging. Om aan ’n gesonde verhouding met myself te bou. Om bewus te raak van wie ek is, die impak wat ek maak en hoe ek “opdaag” in hierdie wêreld. Die vermoë om in die hier en nou te leef.

Iets waaraan daar tans gewerk word, is hoe om nié op autopilot deur die lewe te gaan nie. Om niks te dink, doen of te sê bloot uit gewoonte nie, maar om eerder intens bewus te wees van die mens hierbinne.

Ek wil iemand wees wat nie net leef volgens die rolle wat aan haar toegeken is nie …

Maar wat ook buite en sonder hierdie etikette – dogter, suster, geliefde, kollega, aktrise, sanger – kan funksioneer.

Ek is ook mý eie tyd en inspanning werd.

’n Ander groot gewaarwording was dat ’n mens nie jou sondes of foute is nie. Ek is nie die somtotaal van my gedagtes, traumas of gewoontes nie. Tekortkominge, mislukkings en selfs suksesse definieer jou nie.

Die gedrewe kind en tiener van my jonger dae maak al hoe meer plek vir ’n ander manier van dink en wees. ’n Nuwe identiteit word gevorm.

Vandag sien ek myself as ’n kind van God wat glo in die krag van gebed.

’n Gees, in ’n liggaam hier op aarde, wat met deernis, liefde, vriendelikheid, waarheid, eerlikheid, krag, vreugde, warmte, vergifnis, sagtheid en vrede leef.

Van kleintyd af was dit een van my drome om mense te vermaak …

Om hulle te laat lag en in die wegstap vryer, gelukkiger en meer lewenskragtig te laat voel. Dis steeds ’n droom waaraan ek elke dag werk.

Maar die veel groter droom daaragter – ’n lewensdoel glo ek – is om ander met liefde en ondersteuning te dien. Om geleenthede aan te gryp waar ek ’n lig, ’n huis of ’n sagte rusplek vir iemand kan wees. Dit is wat my dryf … nie werk, roem of sukses nie, maar om in die hier en nou met betekenis te leef.

Om in die woorde van Mahatma Gandhi, die verandering te wees wat ek graag in die wêreld om my wil sien.

Vir iemand met ’n gedrewe persoonlikheid is hierdie soort uitkyk baie bevrydend …

Ek het besef dat ’n mens in hierdie oomblik in jou lewensreis, presies is waar jy moet wees. In die tyd, plek en met al die vaardighede wat nodig is vir vandag.

Daar is steeds dinge waaraan ek moet werk. Soos om nie alles te probeer beheer nie – omstandighede, situasies, uitkomste, mense.

Dit kom vanuit ’n plek van vrees hier diep binne; ’n bang-wees om nie seergemaak of verwerp te word nie.

In sulke oomblikke sal ek doelbewus gaan stilsit, diep asemhaal en rustig en gefokus raak. Dis dan wanneer ek bid, my bes doen om op God te vertrou en myself op ’n logiese manier gerus te stel.

Deel die artikel

Méér artikels

Sy skitter in die kollig, maar SASHA–LEE DAVIDS is in haar wese eintlik skaam en teruggetrokke. Sy moes leer om vrede te maak met wie ...

Klein, slim en bekkig. Dís hoe mense vir ELOISE CUPIDO leer ken het. Sy is ’n voorbeeld van hoe om met selfvertroue vol en uitbundig ...

Scroll to Top