Moenie snags wakker lê oor jou geldsake nie. Begin eerder deur vandag ’n begroting op te stel sodat jou inkomste en uitgawes elke maand sal klop.

Gebruik ’n begroting om jou finansies te bestuur

Dit klink dalk baie vervelig en eenvoudig, maar ’n begroting is die eerste stap tot die effektiewe bestuur van jou persoonlike finansies.

Dis belangrik om te weet watter uitgawes jy elke maand het. Ek praat nie van groot uitgawes soos ’n motor of ’n nuwe yskas nie. Hierdie uitgawes is mos nie deel van die normale maandelikse uitgawes nie, wat dit moeilik maak om dit vooraf te voorspel. Gelukkig kan ’n mens daarvoor begroot.

Ek praat van al die klein uitgawes waarvoor daar nie altyd begroot word nie, soos uiteet elke week. As al die kleiner uitgawes bymekaar getel word, is dit verstommend hoeveel hierdie “luukses” kos.

Toemaar, ek gaan nie allerhande vervelige rekeningkundige beginsels opnoem nie! Dis eintlik baie eenvoudig om jou eie begroting op te stel.

Skryf op presies hoeveel geld julle elke maand uitgee. Die meeste mense het geen idee hoeveel hulle spandeer nie.

’n Begroting moet ’n mikpunt hê, soos om jou kredietkaartskuld af te betaal of geld vir ’n vakansie weg te sit. Om vir ’n doelwit te werk en daarby uit te kom, het ’n gevoel van groot sukses tot gevolg.

Wees net realisties. ’n Te hoë doelwit maak dit baie moeilik om by jou begroting te hou.

Wees eerlik oor jou skuld en wat terugbetaal moet word, want dit gee ’n duidelike, realistiese prentjie van jou geldsake. Verduidelik aan almal in die gesin wat die begroting en beperkings is waarbinne daar gebly moet word. Dan is al die gesinslede voorbereid, en as jy dan nie instem om iets te doen of te koop nie, is daar geen rede vir enigiemand om vies te wees nie.

Selfs die kleinste aanpassings kan mettertyd ’n groot verskil maak.

Maniere om jou maandelikse uitgawes te sny

Wanneer jy jou uitgawes besnoei het, kan jy die ekstra geld wat jy het, begin gebruik om jou skuld vinniger af te betaal. Begin by die skuld waarop jy die meeste rente betaal.

Dit is ook belangrik om jou jaarlikse uitgawes uit te werk. Party dinge word een of twee maal per jaar betaal, soos motorvoertuiglisensies, TV-lisensies, Kersinkopies of jaarlikse tandarts- of oogartsbesoeke. Deel daardie uitgawes deur twaalf om vas te stel hoeveel jy per maand daarvoor moet begroot.

Daar is ’n klomp areas waar oortollige vet van ’n begroting afgesny kan word. Halveer byvoorbeeld die aantal kere per week van uiteet of stel ’n perk vir weeklikse vermaak. En as dié bedrag op is, bly by die huis. As jy elke dag by die kafee of kantoorkantien middagete koop, spaar deur eerder ’n kosblik in te pak vir werk.

Die gewoonte om op pad huis toe by die supermark te stop vir ’n paar items vir aandete, kos baie meer as om ’n behoorlike inkopielys op te stel, en een of twee keer ’n maand inkopies te doen.

Maak ’n lys van vyf- of tienjaarlikse uitgawes. Dit is die groot uitgawes wat ’n mens heeltemal onkant kan betrap, soos instandhoudingswerk aan jou huis of ’n nuwe motor. Begroot daarvoor en begin nou al daarvoor spaar.

Bereken die een-keer-’n-leeftyd-uitgawes. Die grootste uitgawes kan natuurlik dinge wees soos universiteitsgeld of ’n kind se troue. Volg presies dieselfde metode om uit te werk hoeveel jy nou reeds maandeliks daarvoor moet wegsit.

Nienoodsaaklike uitgawes is items wat nie regtig broodnodig is nie. Besluit self wat noodsaaklik is vir jou, want mense se sienings verskil. Party mense dink byvoorbeeld glad nie DStv is “onnodig” nie.

Wanneer dit wat jy uitgee, meer is as die geld wat jy verdien, is dit tyd om rem aan te draai. ’n Begroting is die goedkoopste oplossing vir jou geldsake.