Hoe kan ʼn mens jouself verfris en vernuwing laat plaasvind? Is dit enigsins moontlik? Die diepste dryfkrag wat ons het, is om betekenisvol te leef, sê KLASIE WESSELS.
Ons het ’n diep wil om te verbeter
Jonk of oud, elkeen van ons se daaglikse gedagtegang is tot soveel as 95% dieselfde as gister, en die dag voor gister – ’n warboel van onbeheerste waarnemings wat grotendeels dieselfde is. Hoe vreemd is dit?
Om ’n verskil te maak aan die lewe en vir ander mense van waarde te wees, is ons grootste motiveerder. Soos ’n bekende filosoof lank gelede opgemerk het: Die deur na geluk maak oop na buite.
’n Ander eienskap van die mens is die krag van ons geestelike wil. Ons het die vermoë om berge te verskuif vir dit waarin ons glo. Gekoppel hieraan is ’n spirituele spanning wat ons vorentoe dryf in ’n konstante soeke na meer.
Ons het ’n diep wil om te verbeter en is nie gebou vir konstante balans nie. Om vorentoe te boer in die soeke na ’n beter toekoms is deel van ons oeroue bedrading.
Soos ons voorvaders draai ons steeds klippe om, maar die klippe wat ons deesdae omdraai, is nie meer in die soeke na kos nie, maar om te probeer sin maak van die lewe. En hoe om gelukkiger te wees.
Wat is die grondbeginsels vir sinvolle en volhoudende selfverandering?
Die beginpunt is eerstens om duidelikheid te kry oor hoekom jy wil verander. “Hoekom” is die platform van jou verandering en as jy dit koppel aan ’n rede om jouself of die wêreld beter te maak, is daar ’n groter kans vir sukses.
Jy verander nie net vir jouself nie
Vra jouself: wie sal baat vind by jou vernuwing? Natuurlik sal dit vir jou goed wees. Die voordeel wat dit vir ander gaan inhou is selfs belangriker. As jy vernuwe vir die voordeel van iemand anders, sal jy kan volhou met die proses. As jy dit net vir jouself doen, kan jy dalk stoom verloor.
Besef dit is jou verantwoordelikheid en dat jy iets daadwerkliks sal moet doen. Jy kan nie net droom daaroor nie. Jy moet aksie neem, elke dag. Soveel keer beland ons in posisies waar ons net droom en vir onsself positiewe stories vertel. Verandering is nie storievertelling nie.
Ons is interafhanklik van mekaar. Niks en niemand bestaan op sy eie nie. Toets dit maar. Die kos wat jy eet, die kar wat jy ry, die werk wat jy doen en alles wat jy besit en doen het ’n verbintenis met iets of iemand anders.
Alles is verbind in ’n konstante stroom van oorsaak en effek. Selfs jou goeie of slegte gedagtes is gekoppel aan ’n voorafgaande oorsaak. En alles wat ons dink of doen het gevolge. Ons kan baie van hierdie gevolge positief beïnvloed deur op ons aksies (en denke) te fokus.
Verandering is ’n konstante natuurwet. Ons sien dit in die seisoene en in ons persoonlike lewe. Verandering is met ons elke dag. Aanvaar dit en moenie verandering probeer ignoreer nie. Om verandering te probeer vermy, is die oorsaak van ons frustrasies.