Laat jou vrese vir jou werk!

305

Krap die wortels van jou vrees oop en put energie daaruit, sê LISA BOSMAN. Anders sal dit jou pootjie en keer dat jy jou roeping leef.

In Josua 1:9 kry ons die opdrag om nie bang te wees nie. Dit beteken egter nie dat vrees nie deel van ons lewe sal wees nie. Die lewe is vol ompaaie en vrese is deel van die reis.

Lisa Bevere sê: “Die aanvalle op jou lewe het meer te make met wie jy bestem is om te wees as met wie jy was.” Dit beteken vrees is eintlik net ’n leuen. ’n Poging om jou te pootjie en te verhoed dat jy jou unieke roeping sal raaksien en aangryp.

Ons kan vrees egter nie heeltemal ignoreer of opsy stoot nie. Daar word gesê dat selfs die wêreld se heel beste ballerinas steeds senuweeagtig word voordat hulle op die verhoog gaan.

Maar in plaas daarvan dat hierdie gevoel van angs hulle laat struikel, gebruik hulle dit tot hulle voordeel. In daardie oomblik, net voor die gordyn gelig word, word vrees omgeskakel in ’n bron van energie waaruit die ballerina kan put.

Presies waarvoor is jy bang? Is dit mislukking, verlies of ’n gevoel van verwerping? Die enigste manier om jou vrese van naby te leer ken, is om eerlik te wees oor hoekom jy so voel.

Eers nadat ons die wortels van ons vrese oopgegrawe het, kan ons die leuen met ’n toekomsbelofte vervang.

Dit is belangrik dat jy ook verstaan dat elke mens ’n unieke pad het waarop sy stap. Jy kan nie jou tydlyn met enige iemand anders s’n vergelyk nie. Elke bloeisel blom in sy eie seisoen.

Ons gaan kyk gereeld na sosiale media wat die tydlyne van familie en vriende wys, vol van almal se nuwe oorwinnings.

Weet jy wat is die ironie? Jy vergelyk gewoonlik jou slegste oomblikke met iemand anders se beste oomblikke! Niemand sit tog hulle grootste verleentheid of mislukking op Facebook vir die wêreld om te sien nie.

Dit laat ons aan onsself twyfel en minderwaardig voel. Sodra jy begin vergelykings tref tussen verskillende lewenspaaie, gee jy net meer mag aan jou vrese.

Wanneer jy volgende keer begin om jouself te vergelyk of as vrees jou beetpak, kom dadelik tot stilstand.

Vrees gebruik onrealistiese vergelykings as ’n afleidingsmeganisme om te verhoed dat jy jou unieke roeping navolg. Wanneer dit weer gebeur, skakel jou vrees om in energie.

Span dit in om eerder ’n bietjie “emosionele huiswerk” te doen. Probeer die wortels van jou minderwaardigheids- en vreesgevoelens oopgrawe. Gebruik dan hierdie energie as inspirasie en om jou ambisies na te streef, want dit behoort aan jou!

Neem 15 minute, gaan sit op ’n stil plek en probeer om die volgende vrae te beantwoord: Met watter vrese sukkel jy elke dag? Waar, dink jy, lê die wortel hiervan? Wat kan jy hierdie wêreld bied wat niemand anders kan nie? Skryf nou drie drome neer wat deur jou vrese in die wiele gery word.

’n Boek wat jóú lewe sal verander!

“Geluk lê altyd net om die draai en voel soms so onbereikbaar. Is dit realisties om te dink jy kan elke dag gelukkig wees, al het jy probleme en gaan dit moeilik? Met ouwêreldse geloofswaarhede sê die skrywers van ELKEDAGSE GELUK. Dink net hoe goed almal sal voel as elke gelowige geluk aangee deur dankie-sê-briewe, opregte vrede-maak-uitreike, meer gebed en meer lag. Doodgewone goeie maniere, om mense vriendelik te groet, na mooi musiek te luister … Dis die gewone, klein dingetjies wat eintlik so verskriklik belangrik is. Dit maak my opgewonde om hierdie waarhede een-vir-een weer te ontdek en te doen.” –TRACEY LANGE, TV- en radio-persoonlikheid en skrywer

My een woord Koop die boek ELKEDAGSE GELUK  aanlyn by voelgoedboeke.co.za.