Beperkende oortuigings is gedagtes of opinies wat geneig is om ’n negatiewe uitwerking op ’n mens se lewe te hê. Dit verhoed jou om op ’n persoonlike en professionele vlak te groei.

Jou oortuigings bepaal hoe jy jouself sien. Dit affekteer jou lewensuitkyk. Dit is belangrik om die denkwyses te identifiseer wat jou aan bande lê en in die pad staan van die lewe wat jy wil hê.

Hierdie persepsies is soms so diep ingewortel dat jy hulle net bevraagteken as jy bang of angstig is of met ’n moeilike situasie gekonfronteer word. Wanneer jy uit die boks wil klim, oorval die negatiwiteit jou en dit ry jou planne in die wiele.

Beperkende gedagtes lyk nie altyd skadelik nie. Hulle kom vermom as besorgdheid, logika of beskerming, maar intussen belemmer hulle jou vooruitgang en groei.

Die mens is instinktief ingestel op oorlewing. Jou brein is veronderstel om jou teen seerkry te beskerm. Soms moet ’n mens pyn, onsekerheid of vrees ervaar om die resultate te verkry wat jy wil hê.

Sien dus jou gedagtes as ’n hulpmiddel. As jy dit toelaat, sal jou gedagtes soos stout kinders in jou kop rondhardloop. Moenie toelaat dat dit jou lewe regeer nie.

Neem beheer en gebruik jou denkpatrone om die lewe te skep wat jy wil hê. Deur die negatiewe, beperkende oortuigings te vervang met positiewe opbouende beelde kan jy jou lewe visualiseer soos jy dit wil hê.