Dis moeilik om informasie waaraan ons blootgestel word oordeelkundig te gebruik. Wanneer die pad duister voel, onthou: Ons dien ’n God van wysheid.
Wysheid is nie dieselfde as kennis nie
Ons leef in ’n tydperk waar ’n mens die jongste navorsing met die druk van ’n knoppie kan kry. Daar is beslis geen tekort aan inligting nie.
… en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind (Kolossense 2:3).
Maar inligting is nie dieselfde as wysheid nie. Wysheid is ook nie dieselfde as kennis nie. Wysheid vloei uit kennis. Wysheid is kennis wat op ’n bepaalde terrein toegepas word.
Wysheid is die vermoë om deeglik te onderskei watter aksie op ’n bepaalde oomblik vereis word. Kennis gaan daaroor om die basiese beginsels van ’n saak te verstaan.
Wysheid sou dus wees om byvoorbeeld te verstaan watter elemente van jou geldsake hier ’n rol speel en hoe om jou maandelikse begroting te laat klop.
Natuurlik is kennis belangrik. Tog, as dit nie jou lewensgehalte verbeter nie, is dit net die helfte van die resep.
Dis soos om ’n kluis vol kosbaarhede te hê, maar nie die kode wat jou toegang gee nie.
Wysheid kom deur ’n intieme verhouding met God te koester. Slegs Hy weet wat jy in ’n bepaalde situasie nodig het. Is jy bereid om die Een te vra wat alles weet?
Stap saam met God die pad van wysheid
Die lewe het mos die manier om ’n ompad met jou te loop. Partykeer kronkel jou lewenspad in ’n ander rigting as wat jy gehoop het. Jy kom soms voor kruispaaie te staan wat jou verdwaas laat.
Ek sal jou leer wat die pad van die wysheid is en jou die regte koers laat loop (Spreuke 4:11).
Met tye twyfel jy oor vorige besluite. Jy wonder wat jy eintlik verkeerd gedoen het om in daardie omstandighede te beland. Party seisoene voel vir jou doelloos.
As ’n mens iets buite die bestaansrede daarvan gebruik, is die kanse 100% dat hierdie item misbruik gaan word. Dieselfde gebeur wanneer ’n individu of ’n maatskappy buite hulle skeppingsdoel funksioneer.
Sodra ons ’n pad met God stap, raak Hy betrokke in elke dimensie van ons lewe as mens. In verhouding met Hom leer ons om die doel van elke verhouding, seisoen, teleurstelling en droom te onderskei.
Dit beteken nie alles is sonder probleme nie. Soms neem dit jare voordat ons verstaan.
Maar hierdie reise saam met God bly die kosbaarste belewenisse wat ons as mense kan hê. Hierdie Leier op ons pad wil die heel beste vir ons hê.
Vra vir wysheid om die regte besluite te neem
Die gemiddelde mens kom daagliks voor derduisende besluite te staan. Ons neem meer besluite in een week as wat jou oer-ouma waarskynlik in ’n hele leeftyd moes hanteer.
As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt (Jakobus 1:5).
Daarby geskied hierdie besluite teen die spoed van ’n Nasa-vuurpyl wat in die atmosfeer gelanseer word. Daar is reeds terapie beskikbaar vir mense wat besluitvoos (decision-fatigued) is.
Die feit is ons besluite word nie minder nie. Theodore Roosevelt verduidelik: “In any moment of decision, the best thing you can do is the right thing, the next best thing you can do is the wrong thing, and the worst thing you can do is nothing.” Maar hoe neem ons Goddelike besluite?
Dit klink super-eenvoudig! As jy wysheid kortkom: Stap 1 – Vra dit. Stap 2 – Bid dit. Stap 3 – Ontvang dit. Klink nie té ingewikkeld nie.
Dink ’n oomblik aan die penaries en probleme in jou lewe. Wat sou die uitwerking wees indien jy Hom sou vra en glo dat Hy Sy wysheid in jou lewe laat werk?