As jy op die oomblik in jou skuld verdrink, is die probleem heel moontlik dat jy geld uitgee wat jy nie het nie.
Mense redeneer dat hulle eenvoudig nie ’n kar of ’n huis kan koop sonder om skuld te maak nie. Dit is heel waarskynlik waar, maar dit beteken nie jy moet op luukse vakansies gaan en Duitse motors aanskaf nie – en dit boonop op skuld ook.
Die skuldstrik gaan basies daaroor dat mense geld bestee en skuld terugbetaal lankal nadat hulle van die genot of kortstondige bevrediging vergeet het.
Gee minder geld uit
My uitdaging aan jou is om so gou moontlik van jou skuld ontslae te raak. Die Bybel leer ons om nie ’n slaaf te word van die persoon by wie jy geld leen nie. As jy mooi daaroor dink, is jy inderwaarheid ’n slaaf van die bank.
Wanneer die rentekoers styg, stel die bankbestuurder jou nie persoonlik in kennis nie. Jy voel maar net die verskil aan jou sak. Dit beteken banke kan doen net wat hulle wil.
’n Klompie jare gelede het die rentekoers by 25,5% gedraai. Iemand met ’n berg skuld sal blitsvinnig planne moet beraam om geld in die hande te kry as dit gebeur.
Begin vandag minder spandeer as wat jy verdien. Jy kan dit regkry deur ’n ekstra stroom van inkomste te probeer genereer, deur byvoorbeeld ’n diens aan iemand te lewer. Of jy moet baie bewus raak van waar jy jou geld uitgee en ook onnodige onkoste drasties beperk.
Begin afbetaal waar jy die minste skuld
As jy dit kan regkry om ’n paar rand ekstra te spaar, belê dit in jou skuld. Daarmee bedoel ek betaal af aan jou klererekeninge of kredietkaart. Maak ’n kopskuif.
Dit gaan nie net oor skuld terugbetaal nie, belê regtig in jou skuld. Vir elke ekstra rand wat jy spaar deur minder uitgawes aan te gaan, moet jy daadwerklik begin om terug te betaal.
Stel ’n lys van jou skuld op en bereken presies hoeveel geld jy waar skuld. Begin terugbetaal aan die item of area waar jy die minste geld skuld, en betaal dit eerste af.
Gebruik dan die paaiement wat jy sou gebruik het om daardie gedeelte te vereffen, en las dit dan by die tweede grootste skuldarea. So begin jy ’n sneeubal-effek.
Maak ook seker dat jy in die proses plastiese snykunde toepas en die liewe kredietkaart in stukkies knip sodat jy nie versoek word om dit onnodig te gebruik nie. Dis die beste chirurgie op die mark, en ek beveel dit sterk aan.
Pas die 10-sekondereël toe
Maak ’n doelbewuste keuse om nie weer in die strik te trap waar jy geld spandeer wat jy nie het nie. Wanneer jy begin beplan en daadwerklik skuld delg, moenie impulsiewe aankope doen of dinge koop wat jy nie nodig het nie.
My maatskappy het onlangs ’n opname gedoen oor hoeveel dit jou uiteindelik kos as jy ’n televisiestel op krediet aankoop. Jy betaal bykans vier keer meer daarvoor as wanneer jy dit kontant sou koop as gevolg van die rente op die bedrag wat jy nog skuld. Dis nie die moeite werd nie.
Doen wat die ryk mense doen: Pas die 10-sekonde-reël toe. As jy in die winkel staan en jy wil iets koop, maar jy besef jy sal dit op skuld moet doen, stap uit die winkel uit, gaan staan vir tien sekondes buite en dink of jy dit regtig nodig het. Die kans is goed dat jy dalk net gaan aanstap en nie daardie skuldkopie doen nie.
Ek daag jou uit om regtig goed na te dink voordat jy enigiets op krediet koop. Met ander woorde, dink voordat jy vandag se inkomste of toekomstige inkomste ruil vir iets waarvan jy nou die plesier ervaar, maar teen die tyd dat jy dit moet terugbetaal, het die pret en plesier lankal reeds gekwyn.
As jy jou kop gebruik as dit by jou geldsake kom en nugter bly oor aankope, kan jy uit die skuld kom. Dit is moontlik.